Minder as ’n jaar nadat Andrew Grovers (28) se lewe in ’n messteekvoorval kortgeknip is, is sy moordenaar gevonnis.

Die beskuldigde, Andrew Swartz, is op 8 Mei in die plaaslike landdroshof in Malmesbury op aanklag van moord gevonnis nadat hy vroeër skuldig bevind is aan die moord op Grovers, wat hy met ’n mes doodgesteek het.

Die moord is op 7 Augustus verlede jaar in Abbotsdale gepleeg toe die beskuldigde die huis van die misdaadtoneel binnegekom en in ’n hewige rusie met Grovers betrokke geraak het.

Swartz het die slagoffer kort daarna met ’n mes in die bors gesteek, waarna Grovers aan sy wonde beswyk het. Swartz is kort daarna in hegtenis geneem en sedertdien in aanhouding.

Hy is tot tien jaar tronkstraf gevonnis.

Malmesbury se stasiebevelvoerder, kol. Benjamin Gqabi, het die ondersoekbeampte, AO Franscois Hoffman, vir sy goeie speurwerk, wat tot die suksesvolle inhegtenisneming en spoedige vonnisoplegging gelei het, geprys.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article