Die 28-jarige Andrew Grovers (28) se familie het hom Saterdagoggend (13 Augustus) by die Abbotsdale-begraafplaas begrawe nadat hy ’n week vantevore op ’n wrede wyse van hulle weggeruk is.
Grovers is op 7 Augustus in Abbotsdale met ’n skerp voorwerp doodgesteek.
’n Verdagte is kort ná die moord in hegtenis geneem.
Diane Grovers, Andrew se ma, het aan Gazette gesê sy sou nooit kon dink sy sou haar seun op hierdie ouderdom verloor nie.
“Andrew was die broodwinner, en hy was ’n baie stil mens,” sê sy.
Volgens Diane heers ’n groot leemte in die huis ná sy dood.
“Hy het nooit moeilikheid gemaak in die gemeenskap nie. Hy was ’n baie goeie seun en hy was dol daaroor om sokker saam met sy vriende in die straat te speel,” vertel Diane.
Sy moedig alle ouers in die Abbotsdale-gemeenskap aan om hul kinders uit die moeilikheid te hou.
“Wees daar vir jou kind, al het hy of sy in die moeilikheid beland. Maak seker jy luister na jou kind en wat in jou kind se hart aangaan,” sê sy.
Anneline Milow, Andrew se suster, sê die hartseer wat sy nou ervaar, sal nie maklik weggaan nie.
“Ek en my broer het ’n baie sterk verhouding gehad; ons het mekaar verstaan,” sê Milow.
Milow sê sy was baie lief vir haar broer, maar noudat hy nie meer daar is nie, sal sy sy plek oorneem om na die familie om te sien.
“Andrew het sy kant in die huis gebring en hy was nooit by bendegeweld betrokke nie,” sê sy.
Intussen het die ma van die verdagte, wat weens Grovers se moord teregstaan, die Abbotsdale-gemeenskap om verskoning gevra.
“Ek het probeer keer, maar toe ek dit wou doen, het hy my deur my regterhand gesteek,” vertel sy oor die gebeure.
“Niemand het geweet waarom hy met sulke woede na die huis toe gekom het nie, maar dit is die eerste keer wat so iets by my huis gebeur,” deel sy.
Volgens haar het sy slapelose nagte en vra sy die gemeenskap dat iemand haar in hierdie moeilike tyd net kan bystaan.
“Hy was onder die invloed van drank en ek is nie seker of hy dwelms ook gebruik het nie, maar ek vra dat niemand my moet blameer vir sy dade nie.
“Ek weet nie wat het hom gepla of waarom hy so kwaad was nie,” sê sy.
Volgens sers. Henry du Randt, ’n plaaslike polisiewoordvoerder is hulle deur die Swartland-hospitaal gekontak nadat ’n man ingebring is en gesterf het.
Die polisie het met hul verdere ondersoek vasgestel die 29-jarige verdagte het eers met sy ma baklei en haar met ’n voorwerp gesteek voordat hy na bewering op Grovers toegesak en hom verskeie kere met ’n skerp voorwerp gesteek het. Grovers het met sy aankoms by die hospitaal aan sy wonde beswyk.
Die verdagte het Woensdag (10 Augustus) in die plaaslike landdroshof op aanklag van moord verskyn.
Gazette verneem dat die verdagte moontlik met sy volgende hofverskyning sal pleit en dan vir mediese evaluasie gestuur sal word. Hy bly in aanhouding.




