Die Malmesbury-majoretteklub pronk met die jongste Suid-Afrikaanse atleet in die geskiedenis van die land se trompoppies nadat die 11-jarige Veronique Marthinus Donderdagaand amptelik haar SA kleure ontvang het.
Marthinus, ’n graad vyf-leerder by Liebenberg Primêr, het in Februarie vanjaar reeds die goeie nuus ontvang dat sy vir die SA-span gekies is.
Sy het die spoggeleentheid, aangebied deur die Suid-Afrikaanse Trompoppievereniging (SAMCA), saam met haar spanmaats van Malmesbury, Chenita Abdol en Reese Hartnick (albei 17) bygewoon.
Abdol, ’n graad-11-leerder van Wesbank Sekondêr, en Hartnick, ’n graad-11-leerder van Schoonspruit Sekondêr, het ook hul SA kleure as atlete wat lid van die Suid-Afrikaanse trompoppiespan is, ontvang.
Die geleentheid het by die Nelson Mandela Boulevard- Garden Court-hotel plaasgevind.
Die trompoppies het Suid-Afrika die afgelope naweek by die wêreldkampioenskap by Grand West in Goodwood verteenwoordig.
Die Malmesbury-majoretteklub neem eersdaags van 25 September tot 28 September aan die nasionale kampioenskap, wat in Belhar gehou word, deel.





