‘n Saak van strafbare manslag word ondersoek ná die dood van ‘n voetganger in Bokomoweg. Die man is omstreeks 07:15 Vrydag 4 Julie deur ‘n vragmotor getref.

Nooddienste was reeds met die polisie se aankoms op die toneel. Volgens die plaaslike polisiewoordvoerder, sers. Henry du Randt, is die man op slag dood.

Die slagoffer is later as Martin September (55), ‘n inwoner van Wesbank, Malmesbury, uitgeken.

September was volgens ‘n ooggetuie op die toneel besig om ‘n voertuig wat onklaar geraak het, saam met hom te stoot.

Die oorledene het daarna op die draai op die hoek van Bokomoweg en Pieter Berghstraat gestaan toe hy deur die vragmotor getref is.

“ ’n Vragmotor het by Pieter Berghstraat uit Bokomoweg ingedraai. September het blykbaar met die trefslag onder die voertuig se wiele beland. Niemand is in hegtenis geneem nie, maar ‘n saak van strafbare manslag word ondersoek,” het Du Randt bevestig.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article