‘n Periodieke gemiaau, tevrede spingeluide, 17 kat-rasse, 34 kat-eienaars en agt beoordelaars het vroeg in Oktober die Malmesbury-stadsaal gevul vir die tweede Malmesbury-katskou van die Weskaapse katklub Chats du Cap.
“Katskoue gaan daaroor om katte te vier,” sê Leonard Ferreira, voorsitter.
Die 17 kat-rasse het ingesluit Maine Coons, Bengals, Ragdoll, Burmese, Devon Rex, British Shorthair, Norwegian Forest Cat, Munchkin, Sphynx, Bambino, Elf, Persies en Siamees. Twee Selkirk Rex-katte, ‘n seldsame ras, was ook te sien. Voeg hierby die afdeling vir huiskatte (gewone huiskat sonder stamboek) en blitsvinnig raak dit ‘n besige dag met 113 inskrywings en 350 katliefhebbers wat die skou besoek het.
“Katskoue bring mense op ‘n besonderse manier bymekaar,” sê Ferreira. “Dis ook ‘n skoonheidskompetisie, waar die mooiste katte vir titels en pryse meeding.
“Ons beoordelaars is goed opgelei en gebruik die internasionale katfederasie se puntestandaarde. Elke kat word volgens sy ras se spesifieke standaarde geëvalueer. Beoordelaars evalueer die algehele toestand, die voldoening aan standaard in terme van oor- en oogplasing, kopprofiel, liggaamsbou, stertlengte, die pels se struktuur, tekstuur en lengte.
“ ’n Kat se skou-temperament is een van die belangrikste eienskappe. ‘n Kat moet skougehalte wees en van katskou hou; dit help om hul beste eienskappe ten toon te stel.”
Om heeldag lank ‘n spogkat te wees, verg harde werk. Daarom het die meeste spogkatte teen sluitingstyd tekens van uitputting begin toon. Tog het die wenkatte spoggerig saamgewerk toe die top-inskrywings van die dag aangewys is:
Die algehele wenkat was Le Pattes Cleopatra Queenie, ‘n 14 weke oue Munchkin uit Port Elizabeth, met Adrienne Swart van Kalbaskraal se Abyssinian tweede.
Swart met haar drie Abyssinian-katte het uitstekend presteer. Haar AbyZula Hiroshimama (amper nege maande oud), was die wenner van die All Breeds Cat Club. Sy het ook 30 mededingers in die algehele Kitten Ring (katte van 10 maande en jonger) uitgestof om hier te wen.
Carine Pelser van Malmesbury se Devon Rex, Pixie, is as een van die gunstelinge van die beoordelaars (Judges Best) benoem. Haar Devon Rex, Felix, het die Platinum Master Ring-afdeling gewen.

Colin Bubb van Kalbaskraal se drie Siamese het ook die oog en verskeie benoemings ontvang.
Dit was Chats du Cap se 33ste skou oor die jare en drie klubs het saamgespan: Chats Du Cap-katklub as die gasheer, All Breeds Katklub (ABCC) en die Cat Lovers-vereniging van Suid-Afrika.






You must be logged in to post a comment.