Madeleine van der Merwe van die Langebaan Stars-gimnastiekklub help jong gimnaste al langer as sestien jaar om hul volle potensiaal te bereik.
Dit sluit van vroeër vanjaar ook jong gimnaste van Yzerfontein en Hopefield in, nadat klubs in onderskeidelik Mei en April in hierdie dorpe geopen is.
“Langebaan Stars bied ’n algemene gimnastiekklas aan, wat die meeste dissiplines dek,” sê van der Merwe.
Die verskillende afdelings bestaan uit akrobatiese dans, tuimel en trampolien en sluit ook die nuutste gimnastiekafdeling, naamlik Parkour, in.
Van der Merwe se liefde vir gimnastiek het van kindsbeen af begin sedert sy op tweejarige ouderdom ballet en ander danssoorte begin beoefen het. Sy wou ook graag haar passie en kennis met jong gimnaste deel en het dus in die 1990’s met gimnastiekonderrig begin toe sy ’n klub in Oos-Gauteng geopen het.
“Ek het die klub in Langebaan in Oktober 2006 geopen, en vandag bestaan die klub uit twee afrigters – ek en Biance Pholman – as afrigter en beoordelaar vir akro-gimnastiek en parkour,” sê sy.
Pholman is ook die klub se veiligheidsbeampte en het ’n diploma in sport- en afrigtingwetenskap.
Van der Merwe sê sedert die stigting van die klub het die meeste van die gimnaste aan verskeie provinsiale en Suid-Afrikaanse kampioenskappe deelgeneem en heelwat podiumposisies behaal.
Talle het ook oor die jare hul provinsiale kleure en later WCG- (Western Cape Gymnastics) erekleure vir akro- en ritmiese gimnastiek ontvang.
“In 2013 het ons aan ’n internasionale kompetisie, die ‘Gym for Life Challenge., deelgeneem,” sê sy.
“Hier het ons derde gekom in ons afdeling, waar ander lande ook deelgeneem het. In 2018 het ons aan ‘Dans in jou taal’, wat op DStv uitgesaai is, deelgeneem” sê van der Merwe.
Die klub het ook baie pryse op provinsiale vlak verwerf, waaronder beste klub vir ritmies- en akro-gimnastiek.
“Ons doen ook gereëld die ‘Madiba Cup’, wat tuimel en trampolien bevorder en waar ons ook al goud, silwer en brons verower het.”
Sy sê dit is belangrik vir alle kinders en jongmense om sport te beoefen, omdat dit veral ’n kind in die vormingsjare help.
“Kinders geniet dit om aan die sport deel te neem, want hulle voel passievol daaroor – van die jongste, wat ongeveer drie jaar oud is, tot die 17-jarige wat voor sy of haar ‘grootmenslewe’ staan. Sport is nie net fisiek en aktief nie, maar bied ’n emosionele voordeel ook,” sê sy.
Die sport bied voordele soos motoriese bewegings op die maat van musiek en hoe om bewegings op apparate uit te voer.
“Gimnastiek is nie net ’n sport nie, maar ’n leefwyse.” sê sy. . Drie groepe sal in Oktober aan die Suid-Afrikaanse gimnastiekkampioenskap in Pretoria deelneem.
Alle ouers wat belangstel om hul kinders by die klub te laat aansluit, kan Madeleine van der Merwe by 082 811 8118 of Bianca Pholman by 063 715 0291 kontak.





