Die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit (KWDM) het verlede Donderdag (10 Augustus) tydens ’n geleentheid by die Hoërskool Montana in Worcester aangekondig dat dié munisipaliteit jaarliks een leerder in elkeen van die distrik se meer as 70 skole met R20 000 studiegeld sal borg.
Hierdie besluit volg op die munisipaliteit se besluit om in die jeug terug te ploeg en vir hulle die geleentheid skep om vir tersiêre studies aansoek te doen. Volgens Elna von Schlicht, burgemeester van die KWDM, sal die “burgemeesterstudiehulpfonds” aan elke skool se toppresteerder in matriek gaan, maar dit sal ’n eenmalige bedrag wees.
“Elke ontvanger sal ’n noemenswaardige studiehulptoelaag van R20 000 ontvang, wat direk aan hul onderskeie instellings of kursusse toegeken word,” het Von Schlicht gesê.
Die KWDM se toppresteerders-toekenningseremonie staan ??as bewys van die merkwaardige prestasies van die hoogste presterende matrikulant by alle hoërskole in die distrik, en die studiehulpprogram is ’n uitbreiding van dié bestaande toppresteerders-projek.
Die burgemeesterstudiehulpfonds, ter waarde van R1,6 miljoen, beliggaam die KWDM se verbintenis tot die bevordering van onderwys en jeugontwikkeling.
“Hoewel ’n paar fyner punte nog oorweeg word, is ek verheug om te deel dat hierdie geld van Januarie 2024 af vir ons 2023-toppresteerders toeganklik sal wees,” het Von Schlicht gesê.
Die burgemeesterstudiehulpfonds het positiewe goedkeuring van bywonende skoolhoofde gekry, waar verskeie skoolhoofde verduidelik het dat beperkte hulpbronne soms ’n toppresterende student se drome om tersiêre studies voor te sit, verhinder.
“Hierdie fonds bied ’n inspirerende oplossing en ondersteuning tydens die oorgang van registrasie na die aanvang van ander beurse,” het Von Shlicht gesê.
Die studiehulpfonds se oogmerke verskaf ’n baken van hoop, wat die pad na hoër onderwys vir uitsonderlike presteerders verlig en sodoende die opvoedkundige landskap van die Kaapse Wynlanddistrik bevorder.



