Die skaapstudiegroep van Agri Malmesbury se Kudde-evalueringsdag het die afgelope Vrydag met groot sukses vir die 41ste keer by die plaaslike skouterrein plaasgevind.
Sowat 200 besoekers het die dag bygewoon terwyl 160 jongooie vir die kompetisie ingeskryf is.
Sowat 30 leerders van die Hoërskool Augsburg, die Hoërskool Porterville en die Hoërskool Swartland het aan die Stockman-kompetisie deelgeneem, met Corli Malherbe van HS Porterville wat die wisseltrofee gewen het.
’n Eerste vir vanjaar se kudde-evalueringsdag was ’n toekenning wat aan die leerder met die meeste passie vir die skaapbedryf oorhandig is, naamlik die Agri Expo-wisseltrofee. Die wenner was Devinique Cleophas van HSS.
Die eerste plek van die afdeling “beste vordering oor alle rasse” het gegaan aan Wilhelm Relihan van Oak Valley buite Malmesbury.
Die wenner van die Merino-jongooi-kuddekompetisie was Mike Gregor van Elandsberg Plase buite Malmesbury. Paul Truter van Papkuilsfontuin was die wenner van die Dohne Merino-jongooi-kuddekompetisie. Martin Bester van Hubertskuil (Kliphheuwel), was op sy beurt die wenner van die SA Vleismerino-jongooi-kompetisie.
Wilhelm Relihan het wéér skoonskip gemaak toe sy Dormers die afdeling “Dormer jongooi-kuddekompetisie” gewen het.
Slaglamkompetisie:
Johnny Forbes van Vredesig Dormers buite Malmesbury het die wengroep van drie lammers ingeskryf. Die wenlam in die slaglamkompetisie is deur Ewan Louw van Nuweland Dormers buite Malmesbury ingeskryf.
Hoofborge van die dag was Nova Voere en Agri Expo.




