Danksy ’n inisiatief deur die plaas Kloovenburg se eienaar, Pieter du Toit, kan motoriste, inwoners en besoekers aan die streek vanjaar wéér uitsien na vrolike kersversierings langs die R46.
Volgens ’n inwoner van Malmesbury, Mauritz Meyer, wat sowat drie maande gelede uit Gauteng hierheen verhuis het, is die inisiatief ’n pragtige idee en hy hoop om nog soortgelyke versierings gedurende die Kerstyd langs die paaie te gewaar.
Du Toit se seun Daniël verduidelik dat hulle jaarliks die korog wat tussen die wingerd as dekgewas geplant word, se strooi baal kort nadat dit gestroop is. Die bale sal weer later as organiese materiaal op die walle van die boorde gepak word, maar dien vir nou ’n doel.
Hy is bly om te hoor hoe motoriste reeds die versierings langs die pad geniet. Volgens hom was die idee deel van die bevordering van toeriste-aantrekkings in die omgewing, maar grootliks om vreugde aan almal te bring wat daar verby ry.
“Ons probeer moeite met die Kersversierings doen, veral vir diegene wat nie regtig daardie kultuur van Kersbome en Kersversierings in hul huise volg of dit kan bekostig nie.
“Daarom wil ons ook graag ’n bietjie vreugde gee wanneer mense hier verbykom. Ons hoop dit gee mense ’n lekkerte en ’n goeie gevoel,” voeg hy by.



