Cobie Liebenberg, ’n stigterslid van die Porterville-gemeenskapsvereniging, oorhandig die opbrengs van die saaiprojek aan Sadrick Zincke (middel), die hoof van Porterville Primêre Skool en Cobus Louw (heel links), die hoof van die Hoërskool Porterville, met Pieter du Plessis (heel regs), ook ’n stigterslid van die Porterville-gemeenskapsvereniging.


Die KAL-groep (KAL), in samewerking met ondersteunende sakeondernemings van die Porterville-gemeenskapsvereniging, het onlangs die sukses van die Porterville-saaiprojek met ’n totale bedrag van R2,1 miljoen, wat nou al tot voordeel van minder bevoorregtes in die Porterville-gemeenskap aangewend is, gevier.

Dit volg nadat die Porterville-gemeenskapsvereniging in 2004 ’n koringverbouingsprojek van stapel gestuur het vir die verbouing van graan op 25 hektaar meentgrond in Porterville, wat gratis deur die Bergrivier-munisipaliteit beskikbaar gestel word.

Die inkomste uit die oes en verkoop van die koring word jaarliks aan Porterville Primêre Skool, die Hoërskool Porterville en welsynsorganisasies geskenk. Vanjaar is R300 000 van die wins verdeel, waarby elk R75 000 ontvang het. Die geld is onlangs op ’n spesiale geleentheid aan die bevoordeeldes oorhandig.

Sedert die aanvang van die projek het elk reeds R533 592 ontvang, wat die totale bedrag op ’n stewige R2,1 miljoen te staan bring.

Die KAL-groep (voorheen Kaap Agri) is een van die stigterslede van die vereniging en speel ’n belangrike rol om die volhoubaarheid van die saaiprojek te verseker. As ’n vername verskaffer aan die landbousektor, bied KAL administratiewe ondersteuning om die projek se groei oor die afgelope twee dekades te fasiliteer.

Arno Abeln, KAL se bedryfsdirekteur, sê die langdurige betrokkenheid en volhoubaarheid van die projek is van groot belang vir KAL en die gemeenskap van Porterville.

“As ’n onderneming wat al vir 100 jaar bestaan, is KAL diep gewortel in die ondersteuning van graanprodusente. Ons doel was nog altyd om te verseker dat belanghebbendes beter daaraan toe is as gevolg van die bestaan van die onderneming. In ooreenstemming hiermee neem die groep ’n langtermyn-benadering tot projekte in gemeenskapsontwikkeling en fokus sterk op die opbou van verhoudings met organisasies op grondvlak. Dit is ’n voorreg om saam te werk met vennote wat ons visie van proaktiewe gemeenskapsbetrokkenheid deel. Ons glo vas daaraan om organisasies die hulpbronne en gereedskap te gee wat hulle nodig het om betekenisvolle verandering mee te bring.”

Die groep se graandiensteafdeling deel sy kundigheid en help by die koördinering en administrasie van die projek, wat ’n groot bydrae tot die sukses van die projek gelewer het.

Verskeie projek-vennote help ook met insette deur die verskaffing van saad, kunsmis en chemikalieë volledig of gedeeltelik te borg, sowel as dienste soos krediet, boekhouding en kontrakwerk. Dit word gedoen om te verseker dat die grootste moontlike deel van die inkomste uit die verkoop van die graan vir die projek beskikbaar gestel word. Die borge wat reeds van die begin van die projek betrokke is, is die Bergrivier-munisipaliteit, Viking, Sensako en RSAM Mutual & Federal Insurance en Uitsig Boerdery.

“Ons word voortdurend geïnspireer deur die sukses van die projek en die impak wat dit het op die mees weerlose lede van die gemeenskap, en ons hoop dat dit verder van krag tot krag sal gaan,” sê Wayne Dirks, voorsitter van die Porterville-gemeenskapsvereniging.

Dit is te danke aan dié skenkings dat die betrokke skole nou beoog om ’n studiebeurs-skema te implementeer om voorheen benadeelde leerders te ondersteun.

“Die projek kon nie hierdie mylpaal bereik het sonder die vrygewigheid, tyd, vaardighede, diepe betrokkenheid en ondersteuning van die borge nie. Dit was een persoon met ’n idee wat saam met ’n ander hierdie visie ondersteun en met borge betrokke geraak het. Meer as 20 jaar later kan ons steeds die mees weerlose mense in ons gemeenskappe ondersteun. Groot dinge gebeur wanneer mense met liefde en empatie vir ander saamkom,” voeg Wayne by.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article