Dit is weer tyd vir Jo-Dolphin Swartland se gewilde 5 km-pretdraf. Dié geldinsamelingsgeleentheid, die Jo-Hero Run 2024, word vanjaar hervat nadat Jo-Dolphin genoop was om verlede jaar se pretdraf weens gure weer te kanselleer. Volgens Estrellita Geldenhuys, die hoof van die dagsorgsentrum vir persone met gestremdhede, het die laaste geleentheid op 27 April 2022 by die Meerhof-wynkelder plaasgevind. “Ons het meer as 500 inskrywings ontvang,” voeg sy opgewonde by.
Vanjaar se pretdraf vind op 2 November by Nuweplaas Padstal, geleë teen die R46, plaas.
Kom geniet ’n genotvolle oggend tussen die koringlande teen die hange van Kasteelberg, en trek aan soos jou gunsteling-superheld.
Inskrywings vir volwassenes kos R100, terwyl skoolkinders slegs R30 betaal. Kinders wat ses jaar en jonger is, neem gratis deel.
Inskrywings vind via Ninja plaas of stuur ’n WhatsApp na 072 949 3521. Alle inskrywings sluit op 1 November om 09:00. Hope pryse en gelukstrekkings is op die spel.


