Inskrywings vir die Agri Wes-Kaap se Santam-landbou-jongboer van die jaar-kompetisie 2023 is nou oop.

Groot pryse is in vanjaar se soektog na die Wes-Kaap se beste jong produsent op die spel.

Vanjaar se prys sluit die volgende in:. R20 000 kontant;. twee vliegtuigkaartjies met Lift Airlines;. ’n wegbreeknaweek vir twee by die Gondwana- private wildreservaat;. ’n bemarkingsvideo deur Lucentlands; en. La Motte-wyn.

Die Wes-Kaapse Jongboer vir 2022, Ian Cunningham, wil produsente onder die ouderdom van 40 jaar aanmoedig om deel te neem.

“Die kompetisie dien as goeie maatstaf om jou werk en boerdery te meet. Om jou daaglikse insette op skrif te sien, bied goeie perspektief van die werk wat al gedoen is. Die plaaswerkers het die kompetisie ook vreeslik geniet en dit het baie vir ons gemeenskap beteken.”

Volgens PF Theron, voorsitter van Agri Wes-Kaap se Jongboerkomitee, is die kompetisie ’n uitstekende leerskool aangesien ’n paneel kenners waardevolle terugvoering gee, wat produsente op hul beurt op hul plase kan toepas.

Hy meen dis ook ’n geleentheid vir produsente om hul plase en ondernemings te bemark.

Die vereistes vir deelname sluit in dat die kandidaat 40 jaar of jonger moet wees op die dag wanneer die inskrywings vir die kompetisie sluit. Die sluitingsdatum is 28 April 2023.

Die kandidaat moet ook op die sluitingsdatum vir minstens een jaar lank reeds ’n opbetaalde lid van ’n landbouvereniging wees. Die belangrikste maatstawwe vir beoordeling hou verband met die bestuursfilosofie van die boer, sowel as die tegniese vaardigheid waarmee daardie filosofie in die praktyk toegepas word.

Hoewel die vertakkingsamestelling en omvang van die kandidaat se boerdery-aktiwiteite in ag geneem word, is die mate waarin die boer se bestuursfilosofie op uitnemende wyse in die praktyk toegepas word, meer bepalend.

’n Kandidaat met ’n enkele vertakking wat besonder goed presteer, staan dus ook ’n baie goeie kans om die kompetisie te wen.

Die wenner sal die Wes-Kaap verteenwoordig wanneer die nasionale wenner van die Toyota SA/Agri SA Jongboer van die jaar-kompetisie aangewys word.. Inskrywingsvorms tesame met die beoordelingskriteria is op Agri Wes-Kaap se webtuiste awk.co.za en by plaaslike landbouverenigings beskikbaar, of u kan Agri Wes-Kaap kontak by 021 860 3801.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article