Vervalste geld is op ’n misdaadtoneel gevind.


Die polisie se eenheid vir intelligensie het ’n 39-jarige Zimbabwiese burger, wat na bewering tot onwettige aktiwiteite in Malmesbury verbind word, die afgelope Dinsdag (12 November) in hegtenis geneem.

Die verdagte word volgens ’n plaaslike polisiewoordvoerder, sers. Henry du Randt, daarvan verdink dat hy onwettige paspoorte, rybewyse en permitte gemaak en teen vergoeding uitgereik het.

Die inhegtenisneming volg op inligting wat ontvang is rakende transaksies vir onwettige dienste gelewer.

Voltooide paspoorte en rybewyse is met die polisie se aankoms op die perseel gevind, en die ondersoekers het daarop beslag gelê.

Volgens Du Randt is selfone, rekenaars, hardeskywe, vervalste geld en drukkerye ook van die perseel verwyder vir verdere ondersoek.

Die buitelandse burger is kort daarna met die misdaad verbind en in hegtenis geneem.

“Verdere ondersoek sal geskied om vas te stel of die toerusting wat afgeneem is, gebruik is om ’n misdaad te pleeg,” het du Randt bygevoeg.

Die verdagte het Donderdag 14 November in die plaaslike landdroshof verskyn op aanklagte van bedrog, besit van vervalste geld en oortreding van die Immigrasiewet.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article