Ná ’n eenlopie-oorwinning in ’n rillerstryd teen Hopefield op 9 November het die Darling-“melkboere” die Malmesbury-“koringboere” Saterdag (16 November) in sy agterplaas in ’n Boland-Promosie-Wes-ligawedstryd gepak.
Malmesbury het Darling ingestuur om eerste te kolf.
Fernin Hoogbaard en Abraham Henkelman het die beurt vir Darling geopen en ’n vennootskap van 79 lopies om die eerste paaltjie opgestel voordat Bentley Pieters Henkelman vir 34 lopies van Divann Robertson se boulwerk gestonk het.
Sergio Rooms en Hoogbaard het 36 lopies om die tweede paaltjie gedeel. Hoogbaard se ankerbeurt van 59 lopies is deur Donovan Dudley op 116 beëindig.
Die kaptein, Jevon Cloete, en Rooms het ’n vennootskap van 58 lopies om die derde paaltjie opgelewer. Cloete se vinnige beurt van 31 van 30 balle en Rooms se 40 van 78 balle het ’n stewige grondslag vir Ernwill Afrika en Basil George gelê met hul vertrek op 173/3 en 183/4. Daarna het die opwindende Afrika en George munt geslaan uit die stewige grondslag van hul voorgangers.
Afrika het 17 lopies van 13 balle gemoker, voordat Bentley Pieters hom van Dudley se boulwerk uitgevang het.
Op net 19 het Afrika sy mededingende vaardighede getoon en baie gaan nog van dié jong speler gesien word.
George het vir die tweede agtereenvolgende keer die beurt nie uit nie met ’n kragtige ses afgesluit.
Malmesbury se kolfbeurt het rampspoedig begin toe George Pieters been voor paaltjie (bvp) betrap is en vir net een lopie kleedkamers toe gestuur is om te gaan stort. Malmesbury se paaltjies het vinnig geval en met sy telling op 25/5 was hy kniediep in die moeilikheid.
Darling se boulers het Malmesbury onder geweldige druk geplaas met akkurate boulwerk. Die koringboere se kolwers het gesukkel om lopies aan te teken en drie paaltjies vir slegs 23 lopies verloor en tot 48 vir 8 geval.
Die veelsydige Basil George het ses paaltjies vir 14 lopies in 10 boulbeurte geneem. Hy en Rooms het Malmesbury se laaste twee paaltjies laat kantel en hulle vir 74 uitgeboul, wat ’n oorwinning van 167 lopies aan Darling besorg het.
Die afrigter Ernest Dietrich was baie tevrede met sy span se vertoning, aangesien hulle die hele 50 boulbeurte gekolf het. “Ek is baie tevrede met die span se vertoning omdat ons volhard met die benadering van wedstryd-vir-wedstryd. Ons krieket verbeter met elke wedstryd en ons hoop om op 23 November tuis teen Drakenstein nog beter te vaar,” het Dietrich gesê.





