Ashton Geswint (18)

Die 18-jarige Ashton Geswint van Kalbaskraal is Sondagaand 29 Junie in die Swartland-hospitaal dood nadat hy ‘n noodlottige hou met ‘n gholfstok teen die kop gekry het.

Volgens sy ma, Sylvia – beter bekend as Poenie – was hy op pad na sy broer Brandon toe die aanval plaasgevind het.

Sylvia meen sy is bly haar kind is by die Here. “Hy was nie ‘n bakleierige kind nie; hy was ‘n stil kind. Almal het van hom gehou. Hy het so ‘n slim glimlaggie met ‘n dimpel gehad en vir almal van ver af al gegroet – nes sy ma,” lag sy.

Sy vertel verder en sê haar seun was lief om grappies te vertel. “Ashton was geliefd onder sy vriende, sy tannies en ooms en die hele Kalbaskraal. Hy en sy broer Brandon was ook naby aan mekaar. Ek gaan hom mis – veral soggens wanneer hy koffie maak.”

Sylvia sê Ashton het ouer mense gerespekteer en was ‘n gunsteling onder die onderwysers by Malmesbury High School in Chatsworth.

Sy beskryf sy dood as onnodig. “Hy was nie lid van ‘n bende nie; hy was nie ‘n moeilikheidmaker nie.”

Sy is baie hartseer, maar sê niks is onmoontlik as jy by die Here is nie.

“Die Here hou my kalm. Toe ek my kind daar sien lê, het ek net my kop vasgehou en gebid. As dit nie vir Hom was nie, was dit nie die geval nie. Dit gaan stil wees – sy sitplek is weg, sy brood is weg en sy beker is weg. Maar ek weet hy is op ‘n goeie plek.”

Ashton laat ‘n groot leemte in Kalbaskraal.

Sylvia wens hul dorpie was soos jare gelede sonder geweld en bendes. “Genoeg is genoeg. Ons moet vry wees om te kan loop en nie nodig hê om agter ons te kyk nie. Dit moet stopgesit word. Kinders moet hul ouers begrawe, nie anders-om nie,” voeg sy by.

Die 15-jarige beskuldigde wat Ashton glo met die gholfstok geslaan het, het Dinsdag 1 Julie in die landdroshof in Malmesbury verskyn. Volgens kapt. Tania Helfricht, ‘n polisiewoordvoerder vir die Weskus-distrikskantoor, kan die polisie in dié stadium nie meer inligting oor die beskuldigde bekendmaak nie.

  • Ashton laat sy ma en twee broers – Brandon en Mark – agter.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article