Afriforum Malmesbury het op Saterdag 3 Augustus weer die dorp ingevaar vir fase twee van sy gemeenskapsprojek. Die projek fokus op die opknapping en instandhouding van onder meer monumente, tuine en infrastruktuur op die dorp.

Volgens ’n verklaring, uitgereik deur die forum, is die monument wat die Groot Trek herdenk en op die hoek van Piet Retiefstraat en Voortrekkerweg geleë is, deur inwoners en lede gewas en geverf. Daar is voortgebou op die vestiging van ’n waterwyse rotstuintjie in die omgewing. Die hoek by die Landdroskantoor is ook skoongemaak om die sig vir motoriste te verbeter.

Rotstuine is gebou, beddings is skoongemaak en nuwe plante en bome is geplant en oues is uitgedun.

Die pale van kennisgewingborde is tot met ’n onderlaag geverf.

Tree Fellers van Malmesbury is ook genader om hand by te sit met hierdie groot taak.

Die tradisionele rusbankie oorkant Geard Apteek het in ’n fokuspunt verander nadat dit met behulp van Nico Rame herstel en daarna geverf is. Die houtwerk is ook behandel vir langtermyn-instandhouding.

Hoewel Afriforum op veiligheid fokus, kan die instandhouding van bestaande infrastruktuur volgens hulle nie nagelaat word nie. “Dit is nodig om gemeenskapstrots te kweek deur te bou aan dit wat die moeite werd is om te bewaar,” lui die verklaring.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article