Die Wes-Kaapse gesondheidsdepartement moedig ouers en voogde aan om hul kinders te midde van ’n uitbreking van masels as deel van ’n nasionale veldtog voor 31 Maart te laat inent.

Volgens die Nasionale instituut vir oordraagbare siektes (Nios) is ’n uitbreking in al die provinsies buiten die Oos-Kaap aangemeld.

Volgens die Wes-Kaapse gesondheidsdepartement is tien gevalle tot dusver deur ’n laboratorium in die provinsie bevestig. Al tien is in die Kaapstad-metro.

Ouers en voogde met kinders tussen ses maande en 15 jaar oud kan hulle as deel van die veldtog laat inent.

Tot dusver is 420 097 inentings oor die provinsie heen toegedien en 16 012 deur private apteke en klinieke.

Die meeste inentings was in die Kaapstad-metro (207 025), gevolg deur die Kaapse Wynland-distrik (78 732).

Dit is 24% van die 1 727 392 kinders jonger as 15 wat teen 31 Maart ingeënt moet word.

“Hoewel ons vordering maak, is die volgende twee weke belangrik om te verseker dat ons baie meer kinders bereik,” sê Sonia­ Botha, koördineerder van die Wes-Kaap se uitgebreide immuniseringsprogram. “Die steun van ouers – ook dié in die Moslem-gemeenskap – was tot dusver goed.”

Die departement is bewus van kommer onder die Moslem-gemeenskap oor MeasBio (Biovac), die enigste entstof wat in die openbare sektor beskikbaar is en varkagtige gelatien bevat. “Die Moslem- juridiese raad en die Islamitiese mediese vereniging van Suid-Afrika (Imasa) het tot die gevolgtrekking gekom dat die transformasie van varkvleisprodukte tot gelatien dit genoegsaam verander om dit vir Moslems toelaatbaar te maak om die entstowwe te ontvang,” lui die departement se verklaring.

Masels-simptome sluit in koors, ongesteldheid, hoes en ’n loopneus. ’n Uitslag, wat nie jeuk nie, verskyn gewoonlik rondom die vierde dag op die gesig, nek, lyf, arms en bene.

Die meeste newe-effekte is nie ernstig nie en verdwyn vinnig. Ernstige allergiese reaksies is skaars.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article