Die Wes-Kaapse departement van gesondheid doen ’n beroep op alle ouers en voogde om hul kinders onder 15-jarige ouderdom vir ’n opvolg-inenting teen masels te neem nadat talle gevalle van masels aangemeld is.
Masels is ’n oordraagbare siekte en een van die mees aansteeklikste siektes ter wêreld. Dit kan tot die dood lei.
Die Wes-Kaapse departement van gesondheid het ’n inentingsveldtog van stapel gestuur en addisionele opvolg-entstofdosisse vir elke kind jonger as 15 jaar beskikbaar gestel. Die inentingsprogram is al van 6 Februarie af beskikbaar en sal tot 31 Maart duur.
Hoewel vyf gevalle van masels net in die Wes-Kaap aangemeld is, beteken dit nie ’n uitbreking van die virus nie. Die departement moedig steeds ouers of voogde aan om die geleentheid ernstig op te neem en daarvan gebruik te maak sodat lewens gered kan word. Die departement sê ouers moet steeds die roetine-immunisasieskedule volg.
Ouers van kinders wat nie in dagsorgfasiliteite of openbare skole is nie, word aangemoedig om hul kinders na die naaste kliniek te neem. Die departement sal alle openbare skole en voorskoolse fasiliteite vir ’n geïntegreerde immuniseringsprogram besoek. Ouers of voogde sal vooraf ’n toestemmingsbrief ontvang wat onderteken moet word voordat ’n inenting toegedien mag word.
“Kom ons maak seker geen kind word agtergelaat nie sodat hulle gesond kan bly,” sê die Wes-Kaapse minister van gesondheid, dr. Nomafrench Mbombo.
Ongeag die beskikbaarheid van die entstof, bly masels een van die virusse wat tot die dood onder kinders kan lei. Dié gevalle lei gewoonlik tot komplikasies soos ’n swelling op die brein of longontsteking, wat maar net ván die simptome van die virussiekte is.
“Te veel kinders onder 15 word sonder die nodige beskerming teen masels groot. Die entstof verskaf lewenslange beskerming teen masels en word gratis by alle openbare gesondheidsfasiliteite sowel as in die geïntegreerde skoolinentingsprogramme voorsien. Die Masels Mumps Rubella (MMR)-entstof is ook by alle klinieke in die private sektor beskikbaar,” voeg Sonia Botha, die Wes-Kaapse koördineerder van uitgebreide programme vir immunisering, by.
Die Wes-Kaap poog om sowat 95% van kinders teen die maselsvirus te immuniseer, wat uiteindelike uitbrekings sal voorkom. Om teen masels geïmmuniseer te wees, is twee maselsinentings nodig. Tot nou is 80% kinders in die provinsie ingeënt.
Tekens en simptome
Die eerste tekens van masels is gewoonlik ’n hoë koors, wat 10 tot 12 dae ná blootstelling aan die virus voorkom en sowat vier tot sewe dae kan duur.
Ander simptome soos hoes, rooi en waterige oë, ’n loopneus en klein wit kolletjies op die wange kom eerste voor. ’n Uitslag in die gesig en nek kom gewoonlik ’n paar dae later voor. Dié uitslag is klein rooi en plat kolle oor die hele liggaam en vorm nie sere nie, maar is ook nie jeukerig of pynlik nie.
Die uitslag sal die voete en hande uiteindelik oor drie dae bereik. Dit duur sowat ses dae en verdwyn geleidelik.
Gevare
Oningeënte kinders of kinders wat nie immuun is teen die virus nie, het ’n hoër risiko om masels op te doen, asook erge simptome e ervaar.
Oningeënte swanger vroue is ook in gevaar.
Enigiemand wat nie teen masels ingeënt is nie, of wel ingeënt is, maar nie immuniteit teen die virus opgebou het nie, is in gevaar om deur die virus geraak te word.
Behandeling
Geen spesifieke antivirale behandeling bestaan vir die maselsvirus nie.
Erge komplikasies weens masels kan vermy word deur ondersteunende behandeling soos ’n goeie en gesonde dieet, voldoende vloeistofinname en behandeling vir dehidrasie.
Parasetamol en warm water word vir ’n hoë koors aangeraai.
Antibiotika kan deur ’n gesondheidspraktisyn verskaf word om ’n moontlike oog- of oorinfeksie en longontsteking te behandel.
Voorkoming
Roetine-inentings vir kinders verminder die kanse om masels te kry.
Die maselsentstof word reeds oor die 50 jaar gebruik. Dit is veilig, doeltreffend en goedkoop.


