Die Valke het toegeslaan op Malmesbury nadat sprake van bedrog en korrupsie van byna R2 miljoen ná vore gekom het. Altesaam tien verdagtes is vroeg vandeesweek in hegtenis geneem, terwyl nog vier mense in die vroeë oggendure van 16 Februarie vasgetrek is.
Die Valke se teenkorrupsie-ondersoekeenheid in samewerking met die Suid-Afrikaanse agentskap vir maatskaplike dienste (Sassa), het die afgelope Maandag en Dinsdag altesaam tien verdagtes tussen die ouderdomme van 27 en 58 op aanklagtes van beweerde bedrog en korrupsie in hegtenis geneem. Daar is ook vroegoggend op ’n verdere vier verdagtes toegeslaan, het sers. Hennie du Rand, woordvoerder van Malmesbury-polisie bevestig. Die verdagtes het reeds Donderdagoggend 16 Februarie saam voor die landdroshof op Malmesbury verskyn. Die verdagtes sal volgens die plaaslike polisie in aanhouding bly tot hul volgende hofverskyning. Die datum kon nie teen die tyd van plasing bevestig word nie. Die verdagtes woon na wat verneem word almal op Malmesbury en omliggende gebiede.
Dié arrestasies volg op ’n intensiewe ondersoek na beweerde bedrog en korrupsie wat sedert April verlede jaar van stapel gestuur is. Inligting oor vermeende individue wat besig was om Sassa om die bos te lei deur vervalste dokumente in te dien, het verlede jaar aan die lig gekom. Die verdagtes van onderskeidelik die Oos-Kaap en Wes-Kaap, het na bewering bedrieglike mediese dokumente ingedien vir die aansoek van ongeskiktheidstoelaes by die Sassa-dienspunt op Malmesbury.
’n Plaaslike Sassa-werknemer vorm ook deel van die 14 verdagtes. Sassa het skade van sowat R1.8 miljoen gely weens uitbetalings van dié aansoeke wat suksesvol was.
Die verdagtes is glo deur ’n individu, wat nie ’n mediese of Sassa-werknemer is nie, teen vergoeding gewerf om met die diefstal te help. Die ondersoek duur voort en nog arrestasies word verwag.
Intussen is Sassa vasberade om korrupsie en bedrog hok te slaan deur met sy bewusmakingsveldtogte, wat deur ’n bedrog-voorkomingstrategie, in lyn met die Nasionale Anti-Korrupsie Strategie wat deur die agentskap geïmplimenteer is, voort te gaan.
Enigiemand wat enige inligting oor beweerde bedrieglike aktiwiteite het, word aangemoedig om die Sassa-teenkorrupsie-blitslyn by 0800701701 te bel of Sassa se tolvrynommer by 0800601011.



