Dwelms wat onlangs deur die polisie by ’n verdagte in Moorreesburg afgevat is.


Polisieoptredes om dwelmverwante misdade in die omgewing van Malmesbury die hoof te bied en hok te slaan, werp vrugte af.

Volgens kapt. Marko Heydenrych, ’n woordvoerder van die Malmesbury-polisiekantoor, is ’n 23-jarige verdagte die afgelope Saterdag weens dwelmhandel in hegtenis geneem.

Die inhegtenisneming is omstreeks 17:00 in Silvertown, Chatsworth, uitgevoer nadat lede van die plaaslike polisiekantoor alle leidrade oor beweerde dwelmhandel opgevolg het.

Die perseel is met die polisie se aankoms deeglik deurgesoek toe die verdagte, wat besig was om met dwelms te handel, betrap is. Altesaam 33 Mandrax-tablette, ’n verdere tien halwe Mandrax-tablette en 45,7 gram metafetamien, die dwelmmiddel beter bekend as tik, is op die toneel aangetref en in beslag geneem.

Die verdagte het gister in die Malmesbury-landdroshof op aanklagte van dwelmhandel verskyn.

Kol. Benjamin Gqabi, die stasiebevelvoerder, het sy waardering teenoor lede van die gemeenskap en die polisie uitgespreek vir hul werk en moeite om misdaad te bekamp.

In nog ’n voorval het lede van die Moorreesburg-polisie onlangs twee verdagtes weens dwelmhandel in hegtenis geneem. Die polisie was op ’n sigbarepolisiëringspatrollie toe die verdagtes aangekeer is. Na verdere ondersoek is 30 Mandrax-tablette in ’n plastieksak, toegedraai in foelie, by een van die verdagtes gekry en verwyder, het AO Nicolette Visagie, ’n polisiewoordvoerder, bevestig.

Beide verdagtes – 30 jaar en 47 jaar oud – is op die hoek van Malva- en Sirkelstraat in Moorreesburg aangekeer. Hulle het Dinsdag 25 Julie in die Moorreesburg-landdroshof verskyn.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article