Maceala Samboya (24) het die afgelope naweek haar eerste rugbywedstryd teen die Bulle se Daisies gespeel – dít nadat sy dié sport eers in Februarie vroeër vanjaar begin speel het.
Samboya, ’n oudleerder van Schoonspruit Sekondêr, was van ’n jong ouderdom lief vir sport en het ook daarin presteer. Rugby was egter nooit op haar horison nie – tot nou. Sy het nog altyd van die spel gehou, maar nooit gespeel nie – totdat sy vroeër vanjaar besluit het om haar by Wesbank se vroue-7’s-span, die Wesbank Daisies aan te sluit. Dit was nie lank daarna nie toe Thomas Chowles, die hoofafrigter van die Boland se vroue-7’s-span, die Boland Dames, haar talent gedurende ’n sewestoernooi raakgesien het.
Haar sportgees het op laerskool by Liebenberg Primêr vlamgevat toe sy op die atletiekbaan begin uitblink het. Samboya het gedurende haar hoërskooljare ook netbal gespeel. Sy het egter nooit gedink sy sou so vinnig in rugby van alle sportsoorte vorder nie. “My pa en my broer het rugby gespeel en ons het ook altyd rugby gekyk,” het Samboya geantwoord oor waar sy dink haar liefde vir die spel vandaan kom.
“Ek het nog altyd verkies om saam met die seuns aan sport deel te neem, omdat die uitdaging groter was,” bieg Samboya, wat tans ’n netbal- en vlugbalafrigter by die Swartland-sportsentrum, Score, is. “Ek dink nie die uitdaging was genoeg vir my nie. Daarom het ek vroeër vanjaar besluit om rugby te begin speel,” brei sy uit.
Sy is onlangs vir die Springbok-vroue-7’s-span se oefenkamp gekies, waartydens Samboya gesien het waaroor die sport werklik gaan. “Ek het in die oefenkamp gesien hoe ’n speler op daardie vlak speel en besef ek sal baie harder moet werk,” vertel sy. Dit was ook juis by die oefenkamp waartydens die hoofafrigter van die Springbok-vroue-rugbyspan se 15-tal, Louis Koen, haar vernuf op die veld waargeneem het. Sy is verlede week saam met twee ander spelers uitgenooi om die 15-tal-oefenkamp in Stellenbosch by te woon, wat van 29 tot 31 Julie plaasgevind het. Dit is hier waar sy teen die Bulle, wat tans heel boaan die punteleer is, te staan gekom het.
“Ek ken nog nie alles van die sport nie en het baie om te leer,” erken Samboya. Volgens haar is sy egter nog nie een oomblik spyt dat sy besluit het om ’n rugbybal te begin speel nie. “Ek geniet dit baie en sien uit na die pad vorentoe,” voeg sy by.





