Eseltjiesrus se donkies is al opgewonde oor die komende boekbonanzas.


Eseltjiesrus in McGregor se gewilde jaarlikse Boekefees is terug met ’n nuwe baadjie.

Ná ’n onderbreking weens die destydse Covid-19-inperkings vind twee groot makieties vir boeklesers weer plaas – van Donderdag 15 tot Sondag 18 Junie en weer van Donderdag 22 tot Sondag 25 Junie – ware boekbonanzas.

Hierdie bielies van boekeverkopings word by die Eseltjiesrus-donkie-oord net buite McGregor gehou.

Vanjaar word ’n magdom boeke – meer as 6 000 – aangebied, waarvan sowat die helfte splinternuut is. Dit is al beskryf as “die beste boekemark in die Wes-Kaap” met vragte vol winskopies. Skaars en buitengewone boeke, kinderboeke, kookboeke, reisverhale, geestelike boeke, fiksie en nie-fiksie – noem maar op, dis daar. Nuwe voorraad word elke dag uitgepak.

Die alghele opbrengs van die boekbonanzas word aangewend om bejaarde en verwaarloosde donkies wat uit haglike omstandighede gered is, te versorg. Die Eseltjiesrus-donkie-oord bied hulle ’n permanente en veilige tuiste.

Donkies word gereeld gespot en geminag, maar ten spyte hiervan is hulle saggeaard en herken hulle swaarkry in mense. Hulle leer die mens dat nederigheid ’n teken van krag eerder as ’n swakheid is.. Vir enige navrae, kontak 023 625 1593 – en onthou die donkies by Eseltjiesrus verwelkom besoekers: Donderdae tot Sondae van 10:00 tot 16:00.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article