Agter van links is De Villiers Brink, Bruwer Brink, Haumann Brink en Hermias Hugo (almal van Pulpit Rock), Stefan Johannes (Zwartwater), Selma Willemse (AA Badenhorst Family Wines), André Scriven en André Kirsten (Darling Cellars) en Hennie Hanekom (Winkelshoek; die gasspreker). Voor sit Nicol van Schalkwyk (Pulpit Rock), Carin Brink, Dewald Huisamen (Pulpit Rock), Phillip Vercuil (Org de Rac) en Maggie Immelman en Anthony Meduna (Darling Cellars).

Darling Cellars die groot kampioen by Swartland-jongwynskou

Agter van links is De Villiers Brink, Bruwer Brink, Haumann Brink en Hermias Hugo (almal van Pulpit Rock), Stefan Johannes (Zwartwater), Selma Willemse (AA Badenhorst Family Wines), André Scriven en André Kirsten (Darling Cellars) en Hennie Hanekom (Winkelshoek; die gasspreker). Voor sit Nicol van Schalkwyk (Pulpit Rock), Carin Brink, Dewald Huisamen (Pulpit Rock), Phillip Vercuil (Org de Rac) en Maggie Immelman en Anthony Meduna (Darling Cellars).

Darling Cellars het die tweede agtereenvolgende jaar as Groot Kampioen weggestap nadat sy pinotage/cinsaut (ongehout) die gesogte Absa-­trofee tydens vanjaar se Swartland-jongwynskou verower het. Pulpit Rock, wat dié trofee op sy beurt in 2024 opge­raap het, het vanjaar koning gekraai met die Vinochem-trofee vir die vyf beste inskrywings vir 2026.

Die jaarlikse Swartland-­jongwynskou het op 13 Augustus by die Royal-hotel in Riebeek-Kasteel plaasgevind kort voor die nasionale jongwyn­skou se prysuitdelingsgeleent­heid eersdaags op 21 Augustus by die Elsenburg-landboukollege. Die nasionale kompetisie het 1 389 inskrywings gelok met die beoordeling wat in Julie by Nederburg plaasgevind het.

André Scriven, die hoof-wynmaker by Darling Cellars, het kort voor die aanwys van die trofeë verduidelik alle wynkelders skryf hul wyne vir die nasionale jongwynskou in, waar dit slegs een keer geproe en beoordeel word, en nie weer op streeksvlak nie.

Streek se wyne kweek trots

“Die uitslae, wat na die streke uitgestuur word, kom direk van nasionaal af. Niemand in die streek bepaal wie vandag se wenners is nie.”

Hennie Hanekom van Winkelshoek, Piketberg, was die gasspreker van die dag. Hanekom, een van die stigterslede van die destydse Swartland Wynroete, nou bekend as die Swartland Wyn -en Olyfroete, vertel hoe baie die samehorig­heid en kamaraderie tussen die wynkelders en produsente vir hom beteken het. “Daar was ‘n geweldige gees. Destyds het mense geglo jy kan nie goeie wyn uit die Swartland kry nie.Ons het sedertdien in so ‘n mate gegroei dat dit vir almal ‘n groot trots geraak het. Dit was moeilik aan die begin; dit was nie maklik nie, maar ons het deurgedruk.” Volgens hom is wyn ‘n kuns, maar dit bring ook mense bymekaar. “Laat wyn jul passie bly, ondanks die moeilike tye.”

Darling Cellars, wat nege brons, 29 silwer, twee goud en nege klaswenners op nasionale vlak gewen het, is vanjaar die trotse wenner van die Vinventions-trofee vir die Kampioen Sauvignon, terwyl hul pinotage/cinsaut as die Kampioen Droë Rooi Versnit aangewys is en hulle die Nexus-trofee besorg het.

Talle ander pryse Darling toe

Die span van Darling stap verder weg met die Porex SA trofee vir hul merlot (gehout) wat as die Kampioen Merlot aangewys is; so ook met die Malmesbury Toyota-trofee vir hul sauvignon blanc/sémillon as Kampioen Droë Wit Versnit.

Darling
Darling Cellars se span het met die louere gedurende vanjaar se Swartland-jongwynskou vir 2026 weggestap. Agter staan André Scriven (hoof-wynmaker), André Kirsten en Anthony Meduna met Maggie Immelman heel voor.

Die Santam-landboutrofee gaan vanjaar aan Pulpit Rock se Petit Verdot-inskrywing nadat hulle die titel as Kampioen Ander Rooi Kultivar beklink het. Hulle wen die Wine Machinery-­trofee vir hul cabernet sauvig­non (gehout) as Kampioen Caber­net Sauvignon. Dié kelder aan die hange van Kasteelberg raap verder die Kobus Basson-trofee vir hul pinotage as Kampioen Pinotage op, terwyl hul cinsaut (gehout) vir die Kampi­oen Cinsaut die Séan Nieuwoudt-t­rofee gewen het. En laastens het Pulpit Rock vier brons, 16 silwer, vier goud en sewe klaswenners ontvang, asook die Kotzé/Steyn-trofee vir hul shiraz (gehout) .

Org du Rac het vanjaar die Enartis-trofee in die afdeling Kampioen Ander Wit Kultivar vir hul chardonnay (gehout) ingeoes. AA Badenhorst se Cape Vintage het die SAIL-trofee vir Kampioen- versterkte wyn gewen.

Zwartwater, wat een brons, vier silwer, een goud en twee klaswenners ontvang het, se chenin blanc het sy merk as Kampioen Chenin Blanc gemaak deur die CJP Chemicals Trofee huis toe te neem.

Pulpit Rock
Pulpit Rock se span is goed by vanjaar se Swartland-jongwynskou verteenwoordig. Agter van links staan Bruwer Brink, Haumann Brink, Hermias Hugo en Nicol van Schalkwyk. Voor van links is De Villiers Brink, Carin Brink en Dewald Huisamen.
NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article