Die liggaamsbouer Cleve Williams van Montagu wil graag die jeug deur middel van oefening en sport ophef.

Credit: SYSTEM

Cleve Williams (26), ’n liggaamsbouer en instrukteur in Montagu en die eienaar van die gimnasium Bolofitness Training Systems, sien dit as sy doel om dié dorp se jeug by te staan.

Volgens Williams, wie se bynaam ‘Bolo’ is, het hy reeds van sy jong dae ’n passie vir oefen – spesifiek liggaamsbou – asook gemeenskapswerk.

Dit is dié dat Williams daaraan gedink het om die twee te kombineer en veral die jeug in Montagu aan die positiewe gevolge van oefening bloot te stel.

Volgens hom wil hy die jeug van Montagu opbeur en op die regte pad hou deur hulle aan oefening bloot te stel, wat hulle “iets sal gee om te doen en na uit te sien”.

Williams het aan die Breederivier Gazette verduidelik hy is reeds vanaf 17-jarige ouderdom in graad 11 op die Ashton Sekondêre Skool dol oor oefening, en veral liggaamsbou.

Nadat hy matrikuleer het, het hy dit sy visie gemaak om eendag sy eie gimnasium te besit – ’n droom wat uiteindelik in 2021 ’n werklikheid geword het.

Tans word Bolofitness Training Systems uit Montagu se gemeenskapsaal in Crescentlaan bestuur, waar Bolo oefenkampe, ofte wel ‘boot camps,’ persoonlike afrigting, aanlyn sessies asook gratis groepsafrigting vir die jeug van Montagu aanbied.

“Die kinders sê altyd ‘ek wil soos Bolo wees’,” het hy gesê. Dit het hom laat besef dat die jeug van Montagu na hom opkyk.

Nietemin hou al dié roem Williams steeds nederig en sien hy dit as sy plig om die jeug in sy tuisdorp by te staan.

Verdere gemeenskapswerk wat dié spiertier doen, is om aanvullings en water aan plaaslike rugbyspanne, soos Montagu Villagers, te skenk.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article