Biornerds is ’n plaaslike onderneming wat werk om bedreigde spesies te red en te bewaar. Gazette het hulle gevra presies hoe hulle te werk gaan:
Kan jy verduidelik wat presies doen julle – waarin spesialiseer julle?
Bionerds, ’n private Biodiversiteitskonsultansie-onderneming, werk regdeur Suid-Afrika met private grondeienaars, groot organisasies sonder winsbejag en regeringsorganisasies. Ons bied verskeie biodiversiteit-opname-opsies wat ’n intense tydperk van biologiese opmeting behels in ’n poging om al die lewende spesies binne ’n aangewese gebied op te teken. Dit sluit alle fauna (diere) en flora (plante) in. Ons dra dus by tot die algemene kennis van die biodiversiteit op die betrokke eiendomme deur ’n bepaalde gebied en sy verskillende ekostelsels te ondersoek. As ons iets kry wat vir ons vreemd is, of wat ons nie kan identifiseer nie, werk ons saam met kundiges in die spesifieke veld om vas te stel wat dit is. Die ondersoeke vorm ’n grondslag vir die ontwikkeling van riglyne vir ekologiese beplanning en bestuur. Ons ontwikkel en implementeer dan ook langtermyn-intervensies, wat onder meer navorsingsprojekte insluit, ten einde spesies van bewaringsbelang te monitor, te bestuur en te probeer om die spesies wat bedreig is, te help deur hulle aangewese habitat te beskerm.
Wat het julle laat besluit om hierdie soort onderneming te begin?
In 2017, op ’n lang rit terug huis toe ná ’n biodiversiteit-emmerskop-lys-vakansie, het ons gesels oor hoe broodnodig dit is vir iemand om organisasies sonder winsbejag en private grondeienaars te help om ons land se biodiversiteit te beskerm. Die oorweldigende meerderheid grondeienaars in ons land is lief vir hul grond, en het in die natuur grootgeword. Hulle het egter net soveel tyd in ’n dag, en wanneer mense probeer om ’n landbou-onderneming aan die gang te hou, het hulle beperkte tyd om aan die natuur te bestee. Ons het amper twee dekades se ondervinding in landskap-biodiversiteitsbewaring en weet hoe om al die aspekte bymekaar te bring. Daarbenewens is ons ook lief daarvoor om met mense en die natuur te werk.
Hoe gaan ’n mens te werk om ’n spesie te red?
Ons werk nou saam met die Trust vir Bedreigde Natuurlewe (EWT) op ’n hele paar krities bedreigde spesies. Die EWT het verskeie projekte wat fokus op paddas, reptiele en vlinders, en ons implementeer vir hulle projekte in die Weskus, Overberg, die Algoabaai-gebied en in die hoë graslande van die Hogsback-omgewing. Een spesie waarmee ons werk, is die growwe mospadda, ’n bitter klein paddatjie wat net op die losstaande Klein Swartberg langs Caledon voorkom. Toe ons die projek in 2020 vir die EWT begin het, was die doel om vas te stel hoe dit met die bekende voorkoms van die spesie op die berg gaan. Ons het geskrik toe ons sien hoe oortrek die hele berg met indringerplante was, en twee van die sub-populasies van die paddas wat ons geken het, was amper uitgesterf. Die EWT het ’n kritiese intervensie beplan en die grondeienaars gehelp om die nodige voorsorgmaatreels te tref om so veel as moontlik van die indringerplante uit te wis. Die brand was suksesvol op die eiendom waar die sub-populasies voorgekom het, en met ons onlangse akoestiese opnames was ons baie verlig om weer van die paddatjies in die sub-populasies te hoor.
Watter raad sal jy aan die gemeenskap gee om by te dra tot die langlewendheid van spesies?
Om regtig ’n sinvolle impak op die oorlewing van enige biota te maak, moet ons daarop fokus om hulle en die hele habitat te beskerm. Ons kan dit net doen as ons weet waarna ons kyk of kan bydra tot die kennis van ’n gebied. Om so bydrae tot die kennis van ’n area se biodiversiteit te lewer, beteken nie noodwendig jy moet ’n kenner wees nie. Enigiemand wat daarin belangstel om ’n sinvolle verskil te maak, kan by een van die burger-wetenskaplike platforms aansluit – soos iNaturalist. As jy ’n slimfoon het, kan jy help. Jy laai ’n toepassing af, en dan kan jy al die blomme, insekte, diere, sampioene, spinnekoppe en slange se foto’s of geluide oplaai – dit word geïdentifiseer en gebruik om hoëprioriteitgebiede vir beskerming te teiken.





