Jannie Malherbe (84) Foto: Verskaf/Bergrivier- kanomarathon

Nie eens ‘n rib-besering, wat hy sowat ‘n week gelede opgedoen het, sal die 84-jarige Jannie Malherbe keer om vanjaar sy 52ste agtereenvolgende Bergrivier-kanomarathon te voltooi nie.

Malherbe is tans die oudste deelnemer aan die kanomarathon, wat van Woensdag 2 tot Saterdag 5 Julie) die 63ste keer plaasvind.

Dit begin in die Paarl en eindig 240 km verder in Velddrif aan die Weskus.

“Buiten my ribbekas-besering is my hakskeen ook nou al ‘n geruime tyd seer. Ek het juis my ribbes beseer toe ek as gevolg van hierdie hakskeen geval het. Maar ek loop feitlik nie meer mank nie en ek is hoopvol dat my ribbes betyds herstel sal wees. Niks sal my afskrik nie,” het ‘n vrolike Malherbe verlede week gesê.

Op die vraag oor waar iemand op 84-jarige ouderdom nog die energie vir so ‘n uitdagende aktiwiteit het, sê Malherbe eenvoudig: “Ek is redelik hardekop. Ek is nie iemand wat stilsit nie. Die verwagting is mos dat iemand van my ouderdom op die stoep moet sit en kyk hoe die son sak. Nie ek nie. My oggende begin al hier teen 06:30 en [ek] probeer myself heeldag met iets besig hou.

“Ek begin elke jaar al hier vroeg in Januarie tot aan die einde van Junie vir hierdie ding oefen. Dan is daar ook die hengel waarmee ek myself gereeld besig hou . . . Ek was my hele lewe lank nog aktief.”

Wat die Bergrivier-kanomarathon uniek maak, is dat dit oor ‘n paar dae plaasvind. “Dit vat geweldig baie uit ‘n mens.”

Malherbe sê selfs al word koue en nat toestande vir hierdie week voorspel, sal dit bydra tot die avontuurlustigheid van die marathon. Hy onthou hoe hy en ander deelnemers verlede jaar maagvirusse opgedoen het – vermoedelik weens die besoedelde water van die Bergrivier. “Dit is maar soos enige ander uitdaging.”

Die geleentheid word beskryf as die uiterste toets van vaardigheid in kanovaart en verdien sy plek as een van Suid-Afrika se belangrikste roei-uitdagings.

Deelnemers sal vanjaar van die begin tot einde beproef word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article