Lede van die plaaslike Swartland-munisipaliteit se wetstoepassinsgdiens, Abbotsdale-buurtwag, Malmesbury Veiligheid en die SAPD, wat saamgewerk het om die voetpad netjies te maak om sodoende nog misdaad hiér hok te slaan. Foto: Verskaf

Credit: SYSTEM

Die plaaslike gemeenskap en verskeie organisasies in die veiligheidsektor asook die sakesektor het besluit om in te tree nadat ’n bekende voetpad naby Abbotsdale ’n skuilplek vir vermeende misdadigers en selfs verkragters begin word het.

Dit volg ook nadat ’n 13-jarige skoolleerder na bewering op 24 Januarie in dié omgewing verkrag is. Die voorval is deur die plaaslike polisie in Malmesbury bevestig.

Volgens sers. Henry du Randt, ’n plaaslike polisiewoordvoerder, was ’n groep leerders op pad terug huis toe toe die verdagte hulle genader en vir water gevra het. Die verdagte het een van die leerders gegryp. Die leerder het daarin geslaag om hom te byt en te vlug. Die verdagte het toe ’n ander leerder gegryp, maar dié leerder kon nie betyds wegkom nie.

Lede van die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum, die Abbotsdale-subforum en die plaaslike buurtwag, die Swartland-munisipaliteit se veiligheidskoördineerders, die SAPD en Kaap Agri het vergader om verdere misdaad in die omgewing te probeer hokslaan. ’n Samewerkingspoging is van stapel gestuur waartydens betrokke rolspelers en organisasies hul tyd en toerusting gegee het om die bekende voetpad na Abbotsdale te gaan skoonmaak en bome te verwyder.

“Die skoonmaak van die voetpad en omliggende dele sal dit voortaan vir misdadigers bemoeilik om die voetpad as skuilplek te gebruik,” het die Swartland-munisipaliteit in ’n verklaring bevestig. “Ons bedank alle rolspelers en die Abbotsdale-buurtwag vir die inisiatief en hulp om die gemeenskap te help beveilig.”

Volgens Du Randt is niemand nog in hegtenis geneem nie. . Die polisie versoek dat enigiemand wat inligting oor die onbekende verdagte het, die ondersoekbeampte by 022 482 7500 skakel of die Stop Misdaad-tolvrynommer 08600 10111 gebruik.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article