Die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit (KWD) se eenheid vir rampbestuur het ’n ruim skenking ontvang van Avbob wat broodnodige items verskaf aan diegene wat geraak is deur die strawwe weerstoestande wat die gebied van 14 tot 19 Junie geteister het.
Meer as 1 500 mense is ontruim en verskeie paaie en passe in die Kaapse Wynland is gesluit om die verwoestende impak van die gure weer te ontsnap.
Avbob se skenking sluit in noodsaaklike items soos kospakkies, beddegoed en higiënepakkies en dit sal na gebiede in die distrik met die grootste behoefte versprei word.
Uitvoerende burgemeester Elna von Schlicht en raadslid Clara Meyer, portefeuljehouer vir rampbestuur, het Vrydag 7 Julie in die Paarl die skenkings aanvaar en hul opregte waardering uitgespreek vir Avbob se verbintenis tot vennootskap en gemeenskapsondersteuning.
Von Schlicht het opgemerk dat “dit baie jare is sedert inwoners van ons distrik hierdie soort weer ervaar het. Dankie, Avbob. Dit is ’n voorbeeld van ’n hele-samelewing-benadering, en die KWD waardeer opreg hierdie gebaar. Ons is seker dat ons gemeenskappe wat hierdie items sal ontvang, ook dankbaar vir hierdie ondersteuning sal wees.”
Avbob se deernisvolle skenking sal beslis noodsaaklike hulp aan die geaffekteerde gemeenskappe verskaf, en ’n sprankie hoop in hierdie uitdagende tye bring.




