Die omstrede politikus en voormalige Springbok- rugby-afrigter van die Paarl, Peter de Villiers (67), het met sy verskyning in die streekhof in Malmesbury verlede Maandag (24 Maart) skuld op die aanklag van seksuele aanranding ontken. Hy staar tans drie aanklagte in die gesig, waaronder poging om ‘n seksuele misdryf te pleeg, seksuele aanranding en crimen injuria.

De Villiers word daarvan beskuldig dat hy ‘n lid van die GOOD-party in haar huis buite Malmesbury in Kalbaskraal op 30 Januarie 2023 seksueel aangerand het deur haar te probeer soen en op ‘n bed in die klaagster se huis vas te pen.

Die klaagster het luidens ‘n aanlyn artikel deur Netwerk24 op 24 Maart in die hofverrigtinge getuig sy was alleen in haar huis die dag toe De Villiers besoek afgelê het. Volgens dié artikel het De Villiers haar gebel om GOOD-party dokumente rakende ‘n destydse tussenverkiesing in die Theewaterskloof-munisipaliteit af te lewer.

Die dokumente het glo uiteengesit wie betaal moes word wat die tussenverkiesing betref. Volgens haar het sy gevra dat mense hierdie dokumente na ‘n vergadering moes bring eerder as om by haar huis af te laai. Nadat De Villiers haar gebel en gesê het dat hy op pad na haar toe was, het sy dit toegelaat omdat hy in daardie stadium ‘n senior lid van die party was.

Met sy aankoms het die klaagster vir De Villiers koffie gemaak, wat hy onder ‘n afdak aan die agterkant van die huis gedrink het. Die klaagster was in haar huis, maar het op een tydstip na De Villiers gegaan nadat hy haar geroep het. Hier het hy haar uitgevra oor haar man wat toe weens werk oorsee was. Sy het hom nie geantwoord nie en teruggekeer na binne, waarna hy ingekom en sy koppie in die wasbak gesit het.

Hierna het die klaagster opgestaan om De Villiers te groet, waarna hy gesê het “gee my ‘n k*k soen”, berig Netwerk24.

Hy het haar in sy arms vasgehou, maar sy kon haar mond met een hand toedruk omdat De Villiers haar steeds wou soen. Daarna het hy die klaagster na ‘n kamer met ‘n enkelbed gedwing en op die bed vasgepen, met hom bo op haar. “Hy wou net soen en aangaan,” sê die klaagster.

De Villiers het egter na ‘n ruk self van die bed af opgestaan en by die voordeur uitgeloop, waarna die klaagster agter hom aangehardloop en gesê het: “Jou blerrie boelie!” Hy het geantwoord: “Ja, ek is!” voordat hy in ‘n GOOD-party-voertuig weggery het. Nadat sy gestort het, is sy na die Malmesbury-polisiekantoor om ‘n klagte aan te meld. ‘n J88-verslag is die volgende dag voltooi, wat gewys het dat sy kneusplekke aan haar lyf gehad het, luidens die artikel. De Villiers was voorheen ‘n lid van die GOOD-party – eers vir die Drakenstein-munisipaliteit van 2021 tot 2022 en toe in die Wes-Kaapse wetgewer sedert 2023. Hy is egter in Februarie 2024 weens hierdie saak geskors.

De Villiers was van 2008 tot 2011 die Springbok-rugbyspan se afrigter en is tans ‘n lid van die MK-party. Sy aanslui-ting by hierdie politieke party is deur Nhlamulo Ndhlela, ‘n woordvoerder van MK, aan Paarl Post bevestig. Volgens Ndhlela is De Villiers op 15 Januarie as ‘n tydelike “gewone lid” ingehuldig totdat die party besluit watter rol hy sal vervul. Sy inhuldiging was in Januarie vanjaar op John Hlophe, adjunkpresident en parlementêre leier van die MK-party, se plaas in die Paarl-omgewing.

Die Paarl Post het vir kommentaar na De Villiers uitgereik, maar geen terugvoer ontvang nie. Sy volgende hofverskyning vir kruisondervraging is 2 April.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article