Met net ’n bietjie meer as ’n week oor tot die afslaan van die grootste vroue-sportbyeenkoms nog in Afrika – die IKR-vroue-T20-Wêreldbeker – verkoop kaartjies hiervoor soos soetkoek.

Inwoners van die Drakenstein kan die aksie eerstehands geniet – die Paarl se Bolandpark is een van die stadions wat die reeks sal huisves.

Die 10 beste vroue-krieketspanne ter wêreld reis hierheen, en die aksie begin Vrydag 10 Februarie wanneer Suid-Afrika in die openingswedstryd op Nuweland in Kaapstad teen Sri Lanka te staan kom.

Aanhangers kan nou reeds kaartjies koop vir die 23 wedstryde wat oor 15 dae in Kaapstad, die Paarl en Gqeberha gespeel word.

Die wêreld se beste vrouekrieketspelers sal die middelpunt wees vir ’n unieke Afrika-viering van krieket, wat uitloop op ’n eindronde-naweek by die Nuweland-krieketveld, waar die wenner Sondag 26 Februarie gekroon sal word.

Kaartjiepryse begin by R60, met leerders en pensioentrekkers wat afslag kry. Kinders jonger as ses geniet gratis toegang. Kaartjies is nou beskikbaar by https://womens.t20worldcup .com/tickets

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article