Die Riebeekvallei kry nóg twee Proteas by. Dit kom nádat London Twaku (14) en Racquel Pieters (15) elk goud by die afgelope Suid-Afrikaanse Judo-kampioenskap verower het.

Die kampioenskap het tussen 4 Julie en 7 Julie in Port Elizabeth plaasgevind.

London, ’n gr. 8-leerling by Schoonspruit Sekondêr op Malmesbury, en Racquel, ’n gr. 6-leering by Liebenberg Primêr, se skitterende deelname het vir hulle elkeen ’n plek in die Suid-Afrikaanse judospan verseker. Die span vertrek eersdaags na die Suid-Afrikaanse Statebondspele waartydens hulle aan die internasionale judokampioenskap sal deelneem.

London van die plaas Middelpos en Racquel, van Môreson het albei Protea-kleure met hul prestasies verwerf. Die leerlinge is albei lid van die bemagtigingsprogram, gedryf deur die niewinsgewendeorganisasie Inspire Children and Youth wat plaaskinders help om hul skoolloopbaan te voltooi, armoede te beveg en om hul volle potensiaal te bereik.

“Ons gebruik die sport judo om kinders te help konsentreer, dissipline aan te leer en ook respek vir ander en hulself,” verduidelik die stigter Ingrid Lestrade. Volgens haar help die organisasie ook om onder meer tienerswangerskappe te beveg en hou veral seuns weg van misdadige aktiwiteite.

London vertel dat sy graag eendag ’n dokter wil word, terwyl Racquel ’n juffrou sal wil wees.

“’n Groot deel van ons werk is om die kinders te help om hul drome te ontwikkel, te leer om hard te werk om die drome te laat realiseer en ook terug te ploeg in hul eie gemeenskap,” sluit Lestrade af. Die organisasie is tans hard aan die woeker om geld vir die Statebond-kampioenskap in te samel wat tussen 2 en 6 Augustus ook in PE plaasvind.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article