Leerders van Robertson Voorbereidingskool by die kniekomberse wat hulle help brei het.

Credit: SYSTEM

Jana Scheepers

Robertson Voorbereidingskool se leerders en hul families het sedert Februarie vanjaar toegewyd oor die 23 467 blokkies gebrei wat 192 kniekomberse vir die ACVV kon verseker.

Sanette Prins, skoolhoof van die Robertson Voorbereidingskool, het telefonies aan die Breëderivier Gazette verduidelik die skool se personeel en 357 leerders, asook hul ma’s, pa’s, ouma’s en oupa’s het saam gebrei het aan dié projek.

Die 192 kniekomberse is op 23 Junie oorhandig aan die Robertson ACVV wat die komberse uitgedeel het aan die kinders van Trippeltoontjies, die bejaardes van Huis Le Roux, aan mense op plase in en om Robertson, asook inwoners van Nquebela.

Sy het ook verduidelik dat die skoolgemeenskap nie nét gebrei het nie, maar dat die “gr. 3-maats” saam met Robertson-inwoners die kniekomberse aanmekaar gesit het.

Volgens haar het die skool dié projek aangepak om “empatie” onder die leerders te kweek, en vir hulle ook te wys dat hulle dankbaar moet wees vir wat hulle het.

“Mense uit die gemeenskap kon blokkies brei en dit dan aan ’n spesifieke klas skenk met oumas en tannies van regoor die land wat ook gehelp het, en die blokkies is van oral oor die land gekoerier.”

“Pouses is daar heerlik in die son gesit en brei en wanneer die leerders ’n oomblik in die klas kry, kon hulle ook hul breiwerk uithaal en bietjie brei.”

Volgens Prins het die skool baie van die bolle wol self gekoop, terwyl die gemeenskap ook verskeie bolle geskenk het.

Dit is ook nie die eerste keer dat die skool so ’n projek aangepak het nie, en het ook in 2017 dieselfde breiprojek van stapel gestuur, met vele “omgee-projekte” wat nog sal volg.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article