Altesaam 2000 toebroodjies is deur leerders van Liebenberg Primêr gemaak as deel van hul 67 minute ter ere aan Mandeladag op 18 Julie. Foto’s: Verskaf

Credit: SYSTEM Credit: SYSTEM

Liebenberg Primêr op Malmesbury het vanjaar op 21 Julie hul tweede jaarlikse toebroodjiedag ter ere aan Mandeladag van 18 Julie aangebied.

Graad 4- tot graad 7-leerders het bymekaar gekom om 2 000 toebroodjies te maak met die hoop om ’n positiewe verskil in ander se lewens op daardie dag te kon maak. Die toebroodjies is kort daarna aan medeleerders uitgedeel. “By Liebenberg Primêr glo ons aan ’n holistiese onderrigomgewing. Leerders kan deur middel van die projek sien dat hulle ook daartoe in staat is om terug te gee aan die gemeenskap,” sê die skool.

Sommige van die graad 6- en graad 7-leerders het ook 200 toebroodjies by Huis Dahlia op Malmesbury gaan uitdeel. Die skool bedank vir Sasko wat die brood vir die projek geskenk het, asook vir Superspar Malmesbury vir die geskenkbewys om grondboontjiebotter en konfyt daarmee te kon koop. Die onderwysers het op hul beurt ook produkte tot die projek bygedra.

“Skenkings en ondersteuning deur plaaslike besighede maak geleenthede soos dit moontlik.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article