Frederick Truter saam met sy vrou, Enid, hul dogter Landie en hul seun, Erik.

Credit: SYSTEM

’n Groot boom het geval.

Frederick Truter (46) van die alombekende Deli-Co Farmstyle Butchery by Riebeek-Kasteel is vroeg Donderdagaand (22 Februarie) skielik oorlede.

Hy sou Sondag 47 jaar oud geword het.

Die skoknuus van sy dood het soos ’n veldbrand deur die plaaslike gemeenskap van Riebeek-Kasteel, die Swartland en landboukringe versprei nadat Truter diep spore as gesinsman, inwoner en ’n vooraanstaande figuur in die land se rooivleisbedryf getrap het.

Hoewel die presiese omstandighede oor sy dood nog nie bevestig is nie, verneem Gazette dat hy aan ’n hartaanval gesterf het.

Truter het hom in 1998 by die familieonderneming aangesluit en ’n sleutelrol in die onderneming vervul deur met boere en agente te skakel.

Volgens John Dürr van die Wes-Kaapse Rooivleisprodusente-organisasie het Truter ’n besonderse band met produsente en agente gehad.

“Lewenslange vriendskappe en lojaliteit is gevestig, wat tot hul onderneming se sukses bygedra het,” voeg hy by.

Frederick Truter

Dürr, wat al byna 50 jaar lank ’n pad saam met die Truter-familie stap, beskryf Truter as ’n joviale mens wat baie innoverend was. “Frederick het graag raad van ouer mense ter harte geneem en dit as ’n boublok gebruik om hul horisonne te verbreed en ’n verskil in die rooivleisbedryf te maak. Die band wat hy met sy gesin, sy twee broers, Hendri en Pieter, en die res van sy familie wat nou saamgewerk het, gehad het kan beskou word as ’n les vir ander. Frederick was ’n man wat altyd positief was. Hy het die glas altyd half vol gesien. Harde werk, eerlikheid en geloof het hy nog altyd gehad.”

Enid, Truter se vrou, beskryf hom as ’n besonderse mens wat deur sy lewe soveel mense aangeraak het. “Hy was ’n mense-mens. Hy sou altyd tyd maak vir elkeen. As jy ’n halfuur in sy geselskap was, sou hy jou laat voel asof julle al jare lange vriende is.” Sy sê hy het alle raad wat hy gegee het, altyd eers mooi deurdink en alle opsies oorweeg. “Ons gaan jou spontane lag en jou stories soos net jy dit kon vertel, voorwaar mis,” sê sy.

Sy skryf in ’n huldeblyk: “Jy was ’n man, ’n wonderlike pa, ’n broer, ’n seun en ’n vriend duisend – jy was ons ‘one in a million’.

“Jou plekkie is vir ewig leeg en jou stem is stil, maar jou nagedagtenis sal ons vir ewig koester. Jou vrou, Enid, dogter Landie en seun Erik.”

Boodskappe van medelye deur inwoners van die Riebeekvallei, maar ook uit alle oorde van die land het kort ná sy dood op sosiale media begin instroom.

  • Truter se roudiens vind Saterdag 2 Maart om 11:00 in die NG-kerk op Riebeek-Kasteel plaas.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article