Die Malmesbury Vroue Landbou Vereniging (VLV) het 2023 vir landbou in Februarie begin met Peter Pentz van Grootte Post-wynkelker buite Darling, wat die vroue destyds aangemoedig het om “buite die boks” vir vooruitgang in landbou te dink.
Frik Potgieter van Malmesbury het op sy beurt raad gegee oor peste en plaagbeheer en Bessie Smit, taklid, het vertel oor die oorsprong van landbou.
In Maart is die Sirkel se 70ste sirkelkonferensie gehou by Agter-Paarl NG kerk, met die hoofspreker Jannie Strydom, direkteur van Agri Wes-Kaap.
Hercules Weyers, ’n Mount Royal-inwoner, het meer vertel oor sonpanele en die regte kragomsetter (inverter) en batterystelsel vir jou huis – gewis ’n aktuele onderwerp vir openbare sake. Petri Bosch het oor herwinning gesels.
Vir opvoeding in April het die vroue meer geleer oor ’n nuwe woordspeletjie, wat die Darling-grondslagfase-onderwysers Petro Kirsten en Sanet Lategan ontwikkel. Hulle het dit as groot pret vir jonk en oud beskryf.
As deel van die internasionale bewusmakingsveldtog “Women Walk the World” het die lede ’n lekker staproete op die plaas Tweefontein van Maralize en Truter de Kock aangepak.
In Mei het hulle geleer hoe om Sudoku te speel en Marina Lofty-Eaton, ’n taklid, het demonstreer hoe om ’n tabletrekenaar-oortreksel met laslap-masjienwerk te maak.
Vir kunste en handvlyt in Junie was ’n kreatiewe abstrakte kunswerksessie net die geleentheid vir elke lid om hul kreatiwiteit uit te leef. Dit is aangebied deur die taklede Ohna Nel van Swartland Geskenkstoor en Nelda Buhr.
’n Geldinsameling is gehou waar pannekoek gebak en by ondernemings afgelewer is – ’n groot sukses waarop hulle gewis in 2024 wil voortbou, sê die voorsitter, Mia Louw.
Die VLV Malmesbury het in Augustus ’n Potpouri-vergadering gehou met Elizmare Loubser, ’n biokinetikus, wat meer vertel het oor oefeninge om mobiliteit en beweeglikheid te bevorder en te behou. Suzette Ackerman van Aandskemering het oor haar liefde vir bejaardes en haar werk as matrone vertel. Lillebeth Slabber, ’n VLV-beoordelaar, het oor kompetisie-beoordeling gepraat en Christine van Zyl, taksekretaresse, het gewys hoe om ’n Whatsapp-foto te “edit”.
Danie Schoeman van die departement van gesondheid in die Weskus het besoek afgelê en lede bemagtig met raad oor persoonlike leierskap, groepleierskap en taakleierskap en hoe dit by gesondheid, veiligheid en vooruitgang inskakel. Marie Louw, ’n taklid, het baie moeite gedoen met ’n demonstrasie vir gehekelde kraletjie-doilie.
’n Hoogtepunt was die uitstappie in Oktober na Delico Farmstyle Family Butchery buite Riebeek-Kasteel. “Dit was ’n heerlike dag en ’n belewenis om so ’n groot pakstoor-koelkamer te sien,” het Louw gesê.
Projekte wat vir die jaar aangepak is, het ingesluit om kleurvolle lapvoorskote te maak, wat saam met ’n Kareeboom aan die Jo-Dolphin-sentrum vir gestremdes geskenk is. “Ons het mooi toegedraaide sepies vir die Malmesbury-polisie se trauma-kamer geskenk en boekpryse aan die beste verbruikerstudie-leerders van die Hoërskool Swartland,” het Louw gesê.
Die jaar is op positiewe wyse by die Lowensvlei-blomplaas in Tierfontein, suid van Malmesbury, afgesluit. Ruaan Dreyer, ’n mede-eienaar van Lowensvlei, het die vroue vertel oor wat hy en Marco Moors alles in die laaste 12 maande in ’n nuwe bedryf geleer en vermag het. Hulle het ook die geleentheid gehad om die tonnels te sien waarin hulle die pragtigste Gerberas, ook bekend as Barberton Daisies, verbou.
Kontak Louw by 072 229 7432 vir meer inligting oor Malmesbury se baie aktiewe VLV-tak.





