Die eerste fase van die Clean Up-veldtog vir ’n groener Darling het die afgelope Donderdag met groot opgewondenheid begin.

Volgens Jonathan Petersen, stamhoof saam met Eugene Sias en John Goliath van die Cochoqau-stam (Khoi) poog hulle om alle leë munisipale terreine in en om Darling, wat tans as terreine vir die onwettige storting van rommel gebruik word, op te ruim en in groentetuine om te skep.

Die projek is deur die Beloved Creation en Ranyaka Community Transformation, in samewerking met die raadslid Albert Warnick, die Swartland-munisipaliteit, die plaaslike swartsakeforum, die plaaslike GPF, Green Estate, die Darling- rugby- en krieketklubs en plaaslike kerke suksesvol van stapel gestuur.

Ander rolspelers betrokke by die skoonmaaksessies was lede van die Swartland-wetstoepassing- en brandweerdienste, die SAPD, die Darling Stop Drug Abuse and GBV, die Darling Action-groep en die maatskappy Samasesonke.

Petersen sê die plaaslike munisipaliteit staan bankvas agter die projek en het die inisiatief van die begin af ondersteun, waarvoor alle betrokke rolspelers baie dankbaar is.

Hoewel inwoners steeds besig is om spesifieke gebiede op te ruim, gaan daar binnekort met die groentetuine begin word wat as toekomstige sakeondernemings en gemeenskapsprojekte beskou sal word.

’n Beroep is ook gedurende die geleentheid op plaaslike inwoners gedoen om alle onwettige vullisstortings by die plaaslike munisipaliteit aan te meld.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article