Altesaam R625 000 se finansiering is die afgelope Dinsdag deur die departement van kultuursake en sport aan die sportgemeenskap van die Weskus oorhandig.
Die oorhandiging was deel van die departement se jaarlikse finansieringsproses aan sportfederasies van reg oor die provinsie ter ondersteuning van die administratiewe sy van sake, asook ontwikkeling vir die 2024-’25-boekjaar.
Gerald Donn, die voorsitter van die Weskus-distriksportraad, het gedurende die geleentheid benadruk hoe belangrik finansiering vir die bevordering en die voortbestaan van sport in die platteland is en dat daar nie net op sportklubs in die stad gekonsentreer behoort te word nie.
Die minister Arnoux Marais het op haar beurt gesê sy is opgewonde oor die toekoms van sportfederasies in die Weskus.
“Dit is belangrik dat ons met jeug-ontwikkeling op sportvlak voortgaan sodat ons positiewe bydraes kan bly lewer.”
Sy glo sport sal vanjaar op alle vlakke en in alle provinsies meer aandag geniet danksy die kollig op vanjaar se Olimpiese- en Paralimpiese Spele. Volgens haar het almal die reg om oor ’n goue medalje te droom.
“Een manier om daardie drome ’n werklikheid te maak, is die verskaffing en oprig van ons fasiliteite,” sê sy.
Nuwe netbalfasiliteite is boonop vroeër dieselfde dag op Chatsworth geopen, en sal volgens Marais hopelik groot veranderinge in die lewe van die kinders van daardie gemeenskap maak.



