Dit is vandag ’n week gelede wat Raynique Arendse (18) van Abbotsdale die nuutste lid van die bekroonde Suid-Afrikaanse Jeugkoor geword het.

Arendse, wat verlede jaar by Wesbank Sekondêr matrikuleer het, voel steeds oorweldig nadat haar oudisie met die koorleier, Phil Robinson, by die Universiteit Wes-Kaapland suksesvol was.

Arendse het dit reeds van kleins af baie geniet om te sing. Musiek was vir haar soos ’n ontvlugting wat sy gebruik het om deur haar gevoelens of moeilike tye te werk. “Musiek het my daardeur gedra,” verduidelik sy.

Haar eerste ervaring van ’n koor was in St. Michaels Primêr. Hoewel sy daarvan hou om te sing en weet sy het ’n talent daarvoor, was sy steeds as hoërskoolleerder onseker of sy by Wesbank Sekondêr se koor wou aansluit. Sy beskou haarself soms as skaam en was aanvanklik huiwerig om haar talent te deel. “Ek was bang oor wat mense sou sê,” bieg sy.

Dit was uiteindelik haar beste vriendin, Petra Love, en die skool se koorleier, Fairouz Weideman, wat haar motiveer het om in graad 11 by die koor aan te sluit.

Arendse, ’n eerstejaarstudent in sportbestuur by die NewBridge Graduate-stigting (Tygervalley), deel egter twee liefdes – sang en netbal. Haar sangloopbaan het skielik voorkeur begin geniet nadat ’n onderwyser by die skool haar afgeneem het toe sy gedurende haar eerste kooroefening ’n liedjie gesing het. Die video is op sosiale media geplaas wat mense omtrent laat gons het oor haar verskuilde talent. Sy is sedert die plasing onder meer genooi om by verskeie gospelgeleenthede op te tree en te sing. Sy is veral baie dankbaar teenoor Colin Mitchells wat haar by gospeloptredes betrokke gekry het, asook Glynsie Onverwacht, wat haar aangemoedig het om in haar eie kerk te sing en haar geleer het om haar nie aan mense se oordeel te steur nie.

Die koor het soos haar familie begin raak, waar sy drome begin koester het om eendag voort te gaan met sang en deel van iets groter te wees.

Daarom het sy onlangs besluit om iets daaraan te doen en die droom ’n werklikheid te maak. Dit was ook kort nadat sy op kampus gehoor het van ’n video van die SA Jeugkoor, wat sy gaan opsoek het. Arendse het die vorige Sondag weer op ’n video van die koor op Facebook afgekom en daar en dan besluit om ’n kans te waag en ’n boodskap aan die koorleier te stuur.

Robinson het sommer die volgende oggend geantwoord en gesê ’n geleentheid vir ’n oudisie word vir Dinsdag 18:00 beplan. Sy het die Maandagaand voor die oudisie geweet sy sal tussen sang en haar ander Godgegewe talent – netbal – moet kies. Sy is lief vir albei. “Die Maandagaand het ek gebid en gebid en Bybel gelees. En hoe meer ek die Bybel gelees het, hoe meer het ek die koor in my gedagtes gekry.”

Sy het haar nie verder daaroor bekommer nie en die volgende dag by die oudisie by die UWK saam met twee ander meisies aangekom. Die koorleier het haar note getoets “en my tot ‘do re me fa so la ti do’ laat sing,” lag sy.

”Hy het gekyk tot hoe ver hy my stem kan laat gaan en hoe sterk my stem is.”

Robinson het haar kort daarna met ’n reguit gesig aangekyk, wat haar aanvanklik senuweeagtig gemaak het. Die oomblik toe hy vir haar sê sy is deel van die koor, was sy baie oorweldig. “Dit is basies ’n droom wat begin waar word.”

Met haar aankoms by haar woonstel, is ’n koek en ’n bos blomme al die pad uit Malmesbury met ’n Uber deur haar vriendin afgelewer om die geleentheid behoorlik te vier.

Die koor oefen op ’n Dinsdag- en Vrydagaand. Sy het reeds ná die oudisie in ’n opwarmingsessie ervaar hoe dit gaan wees om lid van die koor te wees. “Hulle het my elke noot verduidelik en dans-moves geleer,” vertel sy opgewonde.

Sy was aangenaam verras oor almal se vriendelikheid wat haar en die ander twee meisies sommer vinnig laat tuis voel het.

Arendse sien veral uit oor die verskillende liedjies wat sy gaan sing en ook vir die geleentheid om in haar landsgenote se taal te kan sing.

Haar ouers, Riaan Smith en Alida Adams, was uit die veld geslaan, vertel sy verder. “Ek het nie geweet wat om vir hulle te sê nie, want ek was self oorweldig. Maar ek kon sien hulle was baie trots op my.”

Haar Abbotsdale-netbalklub was net so trots op haar. Die voorsitter, Brittanee Appollus, het geskerts sy moet nie van hulle vergeet wanneer die roem haar tref nie. “Dit het my laat lag. Dit is waar ek veilig voel. Hulle sal jou meer vier as wat jy jouself vier.”

Arendse het reeds baie liedjies gekry wat sy nou moet voorberei voordat sy Vrydag (17 Mei) amptelik by hulle aansluit. “Dit gaan gewis nie so maklik wees nie, en ek het baie harde werk en opofferings wat voorlê,” voeg sy by.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article