Sharon Ziegers is van 1 April af amptelik as die nuwe skoolhoof van St. Thomas Primêr aangestel.Foto: Sarie Nell


Toe Sharon Ziegers van St. Thomas Primêr in Malmesbury verlede week die tweede skoolkwartaal aanpak, kon sy nooit voorspel dat sy daardie dag St . Thomas se amptelike skoolhoof sou word nie.

Die skolekringbestuurder, Denver Walburg, het haar besoek met: “Baie geluk, jy is van 1 April af skoolhoof van St. Thomas Primêr.”

Ziegers het reeds twee jaar gelede vir hierdie pos aansoek gedoen en was vir dié tydperk die waarnemende skoolhoof. “Ek was tot nou ’n kortsokkie [nog nie amptelik in ’n posisie aangestel nie], maar nou kan my doelwitte ernstige aandag kry – harde werk om die akademiese standaard by die skool te verbeter, want ons beleef steeds die agterstande wat Covid-inperkings by ons leerders gelaat het. My mikpunt is om die leerkultuur onder ons leerders terug te bring – elke kind het tog die reg tot goeie opvoeding. Ek strewe daarna om ’n omgewing te skep waarin elke leerder en personeellid voel hulle word gerespekteer en aangemoedig om hul volle potensiaal te bereik.

“My leuse is juis samewerking, groei en uitnemendheid – saam bou ons ’n toekoms.”

Ziegers, ’n Malmesburiër in murg en been, het in 1995 by St. Thomas Primêr begin skoolhou. “Ek voel trots om met hierdie skool geassosieer te word,” verklaar sy. “Ek was ’n laerskoolkind in St. Thomas Primêr; daarna was my hoërskooljare in Wesbank en Schoonspruit Sekondêr.”

Ziegers het haar onderwysgraad in menslike bewegingskunde as UWK-student verwerf en ’n hoëronderwysdiploma voltooi.

“Hier by St. Thomas het ek gegroei van gewone onderwyser tot departementshoof en later adjunkhoof. Ek voel trots om die eerste vroulike hoof van St. Thomas Primêr met sy 1 457 leerders te wees.”

Sy het verlede jaar ’n ADE (gevorderde diploma in opvoeding en skoolleierskap) aan die Universiteit Stellenbosch verwerf.

Ziegers en haar man, Cecil, het twee jong volwasse kinders, Codi en Kelsey. Sy beskryf haarself as iemand wat keerdatums respekteer en niks van konflik hou nie. “Ek is ’n mense-mens en vredemaker; ek hou nie van spanning nie. Ek wil dadelik ’n ding uitpraat.”

Haar kollegas beskryf haar as iemand wat omgee, nederig en saggeaard en ook ferm maar tog akkommoderend is.

Wat bring vir haar balans? Haar oë blink wanneer sy gesels oor haar liefde vir parkrun, gim, pretlope en stap in die natuur. “Dis my uitlaatklep; dit bring balans in my lewe.” Sy glimlag: “Voeg hierby die drukkies wat die skool se kleintjies soggens mildelik uitdeel! My ander mikpunt is om plaaslike ondernemings by ons skool betrokke te kry; ons benodig werklik goeie borgskappe om ons doelwitte te bereik.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article