Tania Scheepers (AfriForum) saam met Matteus en die leerders van die Christelike Privaatskool Malmesbury (CPM).


AfriForum se teenboelieveldtogspan het in Mei ’n fondasie vir die leerders van die Christelike Privaatskool Malmesbury gelê om boeliegedrag te identifiseer en vinnig in die kiem te smoor.

AfriForum het in ’n poging om ’n daadwerklike verskil te maak, die skool op 14 Mei besoek en 255 leerders by die skool geleer hoe hulle die volle wapenrusting van God kan aantrek om boeliegedrag in sy spore te stuit.

Boeliegedrag in skole is ’n ernstige saak – een uit elke vyf kinders word in ’n stadium in hul skoolloopbaan geboelie.

Hierdie skokkende statistiek het AfriForum genoop om op te tree en skole reg oor die land te besoek om bewusmaking oor boeliegedrag te skep. Die veldtog sluit inligtingsessies in wat leerders leer hoe om boelies se optrede beter te verstaan en daarteen bestand te wees.

Marilize de Kock, die hoof van Christelike Privaatskool Malmesbury se junior fase, sê AfriForum se praatjie was insiggewend, aangesien dit iets is waarmee kinders en onderwysers daagliks gekonfronteer word.

“Daar is altyd ’n rede waarom kinders boelie en ondersoek moet altyd ingestel word na hoekom ’n kind so optree. Onderwysers by skole moet weet hoe om in hierdie gevalle in te tree, omdat kinders vir ’n groot gedeelte van die dag in die sorg van ander is. Ons glo die Bybelse aanslag wat gebruik word met betrekking tot die wapenrusting van God, het ’n positiewe impak op leerders en dit lê ’n goeie grondslag waarop onderwysers kan voortbou.”

Volgens AfriForum se projekassistent vir onderwys, Tania Scheepers, is dit belangrik dat leerders geleer word oor die gevare van boeliegedrag. “Veilige skole sorg ook vir veilige gemeenskappe – nie net nou nie, maar ook in die toekoms. Daarom is dit van kardinale belang om leerders op ’n jong ouderdom met die vaardighede toe te rus om gevare in die toekoms te voorkom.”

Matteus en Daniël Bader (graad 1) van die Christelike Privaatskool Malmesbury (CPM).

AfriForum bemagtig vir die afgelope sewe jaar skole landwyd met dié veldtog en moedig kinders aan om mekaar met die nodige wedersydse erkenning en respek te hanteer. “Hierdie veldtog maak ’n positiewe bydra tot die veiligheid van gemeenskappe deur die boompies te buig terwyl hulle nog jonk is – die jeug is immers ons toekoms,” sê Leandie Bräsler, AfriForum se bestuurder vir jeugleierskap.

  • Besoek www.teenboelie.co.za vir meer inligting oor AfriForum se teenboelieveldtog en om die teenboelie- en kuberboeliegids gratis af te laai.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article