Wat nege dekades gelede ontstaan het as ’n maatstaf om tussen vee te meet, word die Swartlandskou in Moorreesburg vandag as die grootste landbouskou in die Wes-Kaap beskryf.
Erkenning is gedurende vanjaar se skou aan oudbestuurslede en inwoners gegee wat die platform help skep het tot waar dit vandag is.
“Sonder hulle sou dit nie moontlik gewees het om vandag hier te staan nie,” het die skouvoorsitter, Jacques Bester, tydens ’n geleentheid aan gaste gesê.
Hy het gaste teruggeneem na die verlede en vertel van die veranderinge wat deur die jare aangebring is namate die skou gegroei en al meer gewild geraak het. “Waaroor gaan dit op die ou einde van die dag? Dit gaan oor menswees. Die hartklop van hierdie skou kom van die mense van Moorreesburg en omliggende gebiede wat bereid is om hul liggame te gee. Sonder daardie opoffering sou ons nie die platform gehad het nie. Landbou is ’n integrale deel en al hoe ons landbou kan vorentoe vat, is om hierdie platforms te help ondersteun en te maak werk.”
Hy het dit beskryf as ’n voorreg om deel van ’n groep van 40 bestuurslede te wees. “Elkeen van hulle het soveel energie en passie. Ek raak soms emosioneel om te dink oor hoeveel hulle gee sonder om iets terug te verwag.”
Volgens hom is dit belangrik om hierdie platform te behou. “Daarom het ons die jeug nodig. Hulle is die toekoms van landbou en die Swartlandskou in dieselfde asem.”
Bester het na afloop van die skou gesê vanjaar se geleentheid was ’n groot sukses. “Ons is baie dankbaar vir die voorreg om die platform te kon aanbied.” Volgens hom was die terugvoering van borge, besoekers, skenkers en beoordelaars oorweldigend positief. “Die mense wat die skape, beeste en perde kom beoordeel het, was regtigwaar beïndruk met die standaarde wat gestel is. Ons is regtig bevoorreg om ’n groep bestuurslede te hê wat baie energie ingesit het en ’n groot sukses van elke afdeling gemaak het,” het hy dankbaar bygevoeg.
Hoewel die amptelike getalle van skougangers nog nie teen Maandagoggend bevestig kon word nie, is hul mikpunt van 13 000 besoekers binne die eerste drie dae verbygesteek. “Ons het goeie voete gehad en glo ons het die 20 000-kerf behaal.”
Volgens Bester is daar altyd ruimte vir verbetering, maar hy bieg dat dit vreugde bring om goeie terugvoering van skougangers te ontvang. “Ons het veral baie goeie terugvoering van die bees- en skaapafdeling gekry en wat die standaard van die perde betref. Die skeerkompetisie van die skaapafdeling was ook besonders,” voeg hy by.
Beplanning vir 2025 se skou begin reeds vandag om te kyk waar veranderinge en verbeteringe aangebring kan word vir volgende jaar.




