Die Sanlam-Boland-rugbyunie het sy o.21-Skild-span Donderdag (5 September) by die Stellenbosch- Akademie vir Sport bekendgestel.
Die span het sy veldtog teen die Grens Bulldogs Saterdag (7 September), op Polisiepark in Oos-Londen afgeskop.
Vyf spelers van die Swartland-streek – Conray Koopman (Abbotsdale), Sydney Johnson (Darling), Monte Apollis (Good Hopes), Dillon Oppelt en Tyreec Liedeman (albei van Wesbank) – is vir die span gekies. Al vyf spelers is opgewonde en belowe om die Boland met trots te verteenwoordig. Die span word deur die ervare oud-Springbok-, WP- en Stormers-speler Juan De Jongh afgerig.
Swartland Gazette het ná die geleentheid met Liedeman gesels, wat sy buiging vir Boland in Oos-Londen gemaak het. Liedeman het sy opgewondenheid uitgespreek vir die komende o.21 SA Rugbyskild-wedstryde en die span se opleiding en talent onder leiding van bekwame afrigters geloof.
Liedeman het ook sy oupa, Japie Liedeman, ’n voormalige Boland-, WP-liga-, WP- en Protea-speler, erken vir sy onwrikbare ondersteuning en rugby-insigte wat hy met hom deel. Oor sy ambisie oor sy toekoms hoop Liedeman om in die toernooi uit te blink en in sy oupa se voetspore te volg met die hoop om eendag saam met sy neef Emgee Liedeman ook te kan speel.
Ten spyte van die afwesigheid van sy oorlede moeder, Monique Liedeman, vind Tyreec troos daarin om te glo sy waak oor hom en die familie van bo. Hy sê die ondersteuning van sy oupa, familielede en veral sy drie nefies (Emrique, Tyhan en Emgee), beteken vir hom baie.
Tyreec het die nommer ses (flank) gedra, terwyl Conray Koopman van Abbotsdale as reserwe diens gedoen het.
In die wedstryd op Polisiepark in Oos-Londen het die Grens Bulldogs as wenner uit die stryd getree toe hulle met 39-26 geseëvier het. Sanlam-Boland het een ligapunt deur sy vier drieë verdien, terwyl Grens Bulldogs vyf ligapunte met hul oorwinning verdien het.
Sanlam-Boland speel eerskomende Saterdag (14 September) teen die Oostelike Provinsie op die Boland-stadion in Wellington en sal graag wil vergoed vir hul nederlaag teen die Grens Bulldogs.


