Adel van der Spuy, CJ van der Spuy en Chané Erasmus Foto’s: Simonne Kotze van MW|WI


Yzerfontein het op 12 Oktober in ’n sprokieswêreld onder die sterre verander toe 20 jong inwoners van die Swartland hul matriekafskeid bygewoon het.

Die inisiatief van ’n matriekafskeid vir Yzerfontein se graad 12-leerders het sowat ’n jaar gelede vlamgevat nadat Charl en Alet Hambridge, inwoners van die kusdorp, se dogter wou weet of sy eendag ’n matriekafskeid sou hê.

Carla Hambridge (18) het in daardie stadium haar graad 11- en 12 skooljaar aanlyn begin doen.

Vir Alet was daar geen twyfel dat haar dogter haar eie matriekafskeid sou bywoon nie. Die Hambridge-egpaar het kort daarna besef hoe baie inwoners in die omgewing ook aanlyn skoolgaan of gedurende die afgelope paar jaar sedert 2020 nooit hul matriekafskeid weens die Covid-19-pandemie of ander gesondheidsredes kon bywoon nie.

“Party se rokke en pakke is destyds al gekoop,” voeg Alet by.

’n Onvergeetlike matriekafskeid vir die jong volwassenes van Yzerfontein en omliggende dele was sedertdien op die tafel; die kostes daarvan ook. “Ons almal weet hoe die ekonomie knyp en om ’n kaartjie vir ’n matriekafskeid te koop en ’n rok of ’n pak klere te huur, ’n luukse is vir die tyd waarin ons leef. Daarom het ek besef ons moes die gemeenskap betrokke kry om te help,” verduidelik Alet. En so het die droom van ’n onvergeetlike matriekafskeid in ’n werklikheid ontvou.

Weskus Kitchen is vir ’n lokaal genader, en hulle het nie geskroom om die restaurant vir die matrikulante beskikbaar te stel nie. Talle private borge het intussen ook ingespring en bygedra om kaartjies teen ’n bekostigbare prys te verkoop namate die woord van die beplande glansryke aand vir dié jongmense onder die inwoners van die plaaslike gemeenskap versprei het. “Elkeen wat ’n kaartjie geborg het, het iemand in staat gestel om hulle droom-aand te ervaar, wat andersins nie ’n kaartjie sou kon bekostig het nie,” vertel Alet opgewonde.

Inwoners het boonop uit hul pad gegaan met hul goedhartigheid om die matriekafskeid een vir die boeke te maak deur onder meer aandrokke beskikbaar te stel en luukse motors vir die rooitapyt-geleentheid te reël. “Ons was verstom deur almal se mooi harte en Yzerfontein se gesindheid,” voeg sy dankbaar by.

Volgens Alet het niemand gehuiwer om te help sou daar gevra word nie.

DJ Jeandre van Wilderbeats het onder meer gratis die musiek vir die aand verskaf, terwyl die plaaslike fotograaf Simonne Kotze van MW|WI (Moeite Werd| Worth It) haar tyd vir die afskeidsgangers, vergesel deur die heerlikste brownies, geskenk het.

“Darling Cellars het op hul beurt verwelkomingsdrankies aan die gaste geborg, die plaaslike onderneming Raspro het ’n pragtige pienk bank wat as ’n fotohoekie gedien het, voorsien en Yzerfontein Spar het toegesien dat ons feetjieliggies, wat hulle geborg het, die hele aand soos sterre skitter,” vertel sy verder.

Alet en die span agter die skerms het almal vir hul ondersteuning op die rooitapyt bedank, asook vir elke hand wat die aand ’n reusesukses gemaak het. “Dit word opreg waardeer. Die kelners by Weskus Kitchen se diens was puik en die kos was heerlik. Sonder elkeen se hulp sou die aand nie gebeur het nie. Ek het net weer eens besef hoe fantasties dit is om in Yzerfontein te woon en om deel te wees van ’n gemeenskap wat omgee.”

Volgens Alet het die eregaste geskitter soos die sterre en pragtig gelyk. “Mag julle elkeen nooit ophou droom nie, bly glo in julleself en mag ons Hemelse Vader julle elkeen seën en beskerm waar julle ook al gaan,” was haar boodskap aan hulle.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article