’n Grafiese voorstelling van die Tiere Sportpark. Foto: Verskaf


Die Tiere se droom van ’n splinternuwe- en topgehalte sportfasiliteit in Moorreesburg word ’n werklikheid.

Só vertel Ghida Visser, die byeenkoms-organiseerder van die Hoërskool Dirkie Uys, luidens ’n verklaring oor die Tiere Sportpark-projek.

“Ná vier jaar van onophoudelike pogings en talle aansoeke, staan die Tiere Sportpark-projek op die drumpel van iets werklik buitengewoon vir die Swartland. Wat vroeër onmoontlik gelyk het, het nou ’n werklikheid geword danksy die waardevolle ondersteuning van die nasionale loterykommissie (NLC) en die bydraes van verskeie borge.”

Dié finansiering het bygedra tot die uiteindelike beplanning van onder meer ’n astro-hokkiebaan en ’n nuwe rugbyveld wat die streek se sportbehoeftes na nuwe hoogtes gaan neem.

Tiere Sportpark sal toeganklik wees vir die hele Swartland en sal met fasiliteite wat geskik is vir kompetisies, wedstryde en groot sportbyeenkomste nie net skole nie, maar die hele gemeenskap van Moorreesburg en omliggende dorpe bevoordeel.

“ ’n Sentrum van sport in Moorreesburg as die mees sentrale dorp in die streek, is die ideale ligging vir so ’n sportfasiliteit,” lui die verklaring.

Die omheinde Tiere Sportpark, wat streng veiligheidsmaatreëls met toegangsbeheer sal toepas, gaan voortaan ’n veeldoelige astro-hokkiebaan met beligting huisves wat hokkie en ander sportsoorte sal kan huisves. Inwoners en sportentoesiaste kan verder uitsien na ’n nuwe rugbyveld en netbalbane met die nodige beligting vir groot byeenkomste. Die sentrum sal verder ’n 50m-swembad, gebou volgens Olimpiese standaarde, bevat, ideaal vir swemgalas en oefeninge.

Die sportpark sluit ook doeltreffende parkering vir besoekers en sportlui in, met gerieflike badkamergeriewe vir alle leerders en besoekers.

’n Gesogte klubhuis rond die kompleks af, wat die nodige sosiale ruimte vir almal bied.

Die sportpark word volgens die skool as ’n sentrum van uitnemendheid beskou, wat op sy beurt die sportlandskap in die Swartland sal transformeer. “Dit is ’n belegging in die gemeenskap wat toekomstige geslagte in staat sal stel om ’n selfonderhoudende sportpark te benut.”

Die astro-hokkiebaan word as ’n hoogtepunt van die ontwikkeling beskryf. “Met die nuwe astrobaan sal die Hoërskool Dirkie Uys leerders van omliggende dorpe kan ontvang. Die koshuise naby die sportpark bied ook ’n veilige hawe vir leerders en versterk die skool se aantrekkingskrag. Die Swartland se sportbeeld word só op die voorgrond geplaas as ’n belangrike bestemming.”

Die ontwikkeling het op 22 Julie vanjaar begin met die eerste fase die ontwikkeling van die astro-hokkiebaan.

Die HDU bedank alle borge wat hierdie droom moontlik gemaak het.

“Tiere Sportpark simboliseer die begin van ’n nuwe era – nie net vir die Hoërskool Dirkie Uys nie, maar vir die hele Swartland. Hierdie sportpark sal die hartklop van die gemeenskap wees – ’n ruimte waar atlete, afrigters en die breër gemeenskap kan saamkom om te oefen, mee te ding en te leer. Ons nooi die gemeenskap uit om hierdie merkwaardige prestasie saam met ons te vier en deel van hierdie opwindende reis te wees.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article