“Geen bank se bedrogafdeling sal jou bel en jou inlig van ongemagtigde transaksies nie.”

Só waarsku die polisiewoordvoerder kapt. Tania Helfrich van die polisie se Weskus-distrikskantoor nadat verskeie gevalle van bedrog onlangs aangemeld is.

Volgens Helfrich is dit ook onder die polisie se aandag gebring dat talle inwoners glo onder bedrog deurgeloop het wat via sosiale media gepleeg is.

In onlangse gevalle wat in die Weskus-polisiedistrik aangemeld is, het twee mense hul dienste op sosiale media adverteer deur hul hulp met die aansoek van visums aan te bied, asook om vir ’n werk in Nieu-Seeland aansoek te doen.

“Nadat die geld oorbetaal is, is die slagoffers op WhatsApp geblok en die adverteerders het verdwyn,” verduidelik sy.

Dié bedrogsake word tans ondersoek nadat dit blyk talle mense is deur dieselfde vermeende bedrieërs ingedoen.

Die polisie vermoed verder dat die verdagtes nie hul regte name gebruik het nie. “In een van die gevalle het iemand R27 000 oorbetaal,” waarsku Helfrich. Die polisie doen ’n beroep op alle inwoners om waaksaam te wees en eers deeglik navorsing te doen voordat transakies met betrekking tot ’n advertensie op sosiale media gedoen word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article