Die sementvervaardiger PPC het in Januarie vanjaar aangekondig dat hy binnekort ’n nuwe sementaanleg ter waarde van R3 miljard by een van sy bestaande aanlegte in die Wes-Kaap, naamlik Riebeek-Wes, gaan oprig. Die aankondiging kom nadat ’n strategiese samewerkingsooreenkoms met die ingenieursmaatskappy Sinoma Overseas- ontwikkelingsgroep in Junie verlede jaar gesluit is. Inwoners en belangegroepe wat sedert 2007 by die omgewingsimpakassesseringsproses betrokke was, is egter van mening dat die sementreus nie oop kaarte met die plaaslike gemeenskap speel nie.

Ndima Rawana, die uitvoerende hoof van menslike hulpbronne by die sementproduseerder, het in terugvoering op navraag wat deur die Gazette aan PPC gestuur is, gesê meer inligting sal met die plaaslike gemeenskap gedeel word sodra finale goedkeurings gegee is. Sy het verder verduidelik dat die Kaapse streek ’n baie belangrike mark vir hulle is. “Die huidige aanleg is byna 70 jaar oud, wat beteken dit moet of ontbind word of ’n massiewe opgradering ondergaan om aan die omgewing-

standaarde te bly voldoen. ’n Toonaangewende aanleg met die nuutste tegnologie sal PPC in staat stel om sement op ’n meer omgewingsvriendelike wyse te vervaardig,” het sy oor die noodsaaklikheid van ’n nuwe aanleg verduidelik. “Die tegnologie wat aangewend sal word, sal doeltreffende energiegebruik meebring en ’n laer-koolstof-sement teen ’n mededingende koste tot gevolg hê,” meen Rawana. Volgens haar sal die nuwe aanleg ook baie langer in produksie wees as wat vir die huidige aanleg voorspel word. Sy sê dit is belangrik om kennis te neem dat die finale groenlig vir die amptelike begindatum van bouwerk nog nie gegee is nie. “PPC het reeds sleutelgoedkeurings wat mynregte en omgewingsaspekte betref gegewe die feit dat ons ’n nuwe aanleg op die bestaande perseel bou. Ons is verder daarvan oortuig dat ander lisensieprosesse suksesvol sal wees. Soos in die verlede, sal vergaderings met die plaaslike gemeenskap- en belangegroepe plaasvind om meer inligting oor die projek te verskaf.”

PPC kan in dié stadium bevestig dat hy so ver as moontlik plaaslike en Suid-Afrikaanse kontrakteurs vir die ontwikkeling gaan gebruik. “Projekte van dié aard het ’n uitwerking op die hele waardeketting met plaaslike ondernemings wat ondersteun sal word.”

PPC kan nog nie terugvoer gee oor of die ontwikkeling steeds voldoen aan die oorspronklike omgewingsimpakassessering, hoe vervoer van goedere en boumateriaal die plaaslike omgewing gaan raak en of ’n tydelike dorp vir bouers opgerig gaan word, soos in gerugte beweer word nie. Die verskillende boufases van die projek sal mettertyd volgens PPC met die plaaslike gemeenskap gedeel word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article