David Rossouw
Die Malmesbury-krieketklub se eerste span het op 8 November op hul tuisveld in ‘n Boland T20-krieketwedstryd teen die Piketberg-krieketklub se eerste span te staan gekom. Die gasheer het met selfvertroue gespeel en ‘n oortuigende oorwinning van 64 lopies behaal.
Malmesbury het besluit om eerste te kolf en sy beurt op 146/7 in die toegelate 20 boulbeurte afgesluit. Donovan Dudley het van voor af met die kolf gelei en die pas met ‘n kragtige 44 lopies van net 30 balle aangegee, terwyl Dwayne Scheepers ‘n ankerrol vertolk het met 32 lopies van 43 aflewerings. Divann Robertson het die wilgerlat rustig geswaai en ‘n vinnige 21 lopies van slegs 10 balle aangeteken.
Piketberg se kolwers het teen Malmesbury se akkurate boulaanval gesukkel. Hulle kon slegs 82/8 in hul toegelate 20 beurte aanteken. Dudley het ook sy veelsydigheid gewys en met die bal ook uitgeblink deur drie paaltjies vir net nege lopies in drie beurte te neem. Edwin Amerika het 2/11 in sy vier beurte behaal, terwyl Robertson goeie bystand verleen het met sy 2/9 in drie beurte.
Malmesbury het met dié oorwinning gewys hy is op koers in die Boland-T20-liga en pak sy volgende T20-wedstryd op Saterdag 29 November teen Hopefield in sy agterplaas. Die vonke gaan gewis tussen die twee spanne spat as die oorwinning oor Piketberg as maatstaf geneem word.
Met dié oorwinning het die Malmesbury-krieketklub nie net sy posisie in die Boland-T20-liga versterk nie, maar ook ‘n waarskuwing aan hul teenstanders gestuur.




