Die Yzerfontein-woonwapark in samewerking met die plaaslike Yzer Art Route het onlangs besluit om die chalets in die park op te knap.
Die opknappingsprojek, wat steeds onderweg is, sluit hoofsaaklik muurskilderye aan die binnekant én later aan die buitekant van die chalets in. Die muurskilderye is elkeen deur plaaslike kunstenaars, wat by die kunsroete betrokke is, geskilder.
Die inisiatief volg nadat Michael Roodt, die bestuurder van die woonwapark, Yzer Art Route genader het vir insette oor hoe die chalets opgeknap kan word. Volgens hom gaan die stoepgedeeltes ook in ‘n latere stadium deur die kunstenaars geverf word.
Die muurskilderye is deel van die algehele opknappingsprojek van die chalets wat ‘n nuwe lek verf aan die binne- en buitekant benodig. Die plaaslike kunstenaars was nou beskikbaar om te help en ons het die geleentheid aangegryp,” het hy bygevoeg.
Volgens Kiara Dewrance van die Yzerfontein-toerismekantoor, wat die projek ondersteun en die betrokke rolspelers bystaan, is die plaaslike toerisme-organisasie baie opgewonde oor die kleurvolle inisiatief wat deur Roodt en die Yzer Art Route van stapel gestuur is. “So ook die Swartland-munisipaliteit, wat bankvas agter die projek staan,” voeg Roodt by.
Die kunswerke gaan uiteindelik ook deel wees van toekomstige kunsuitstallings in die plaaslike gemeenskapsaal.
“Ons beplan om die huise vir besoekers – indien daar niemand oornag nie – te open wanneer hulle die plaaslike kunsuitstallings in die aangrensende gemeenskapsaal besoek,” sê hy opgewonde. Roodt is vas oortuig vakansiegangers gaan dol wees oor die muurskilderye en hopelik die woord daaroor versprei.
Die eerste fase van die projek het verlede week begin en sal na verwagting vandeesweek voltooi word, het Dewrance bygevoeg.
Die plaaslike kunstenaars verantwoordelik vir die kunswerke is Ami Smuts, Christa Bester Janssen, Lizette Fourie, Ester Blake, Helene Viljoen, Sake en Wilna Van Der Wal en Dewrance – almal lede van die roete.
“Dit was ‘n samevoeging idees, verwe, kreatiwiteit en ‘n begeerte om in ons tuisdorp terug te ploeg op die beste manier wat ons weet hoe, en dit is deur te verf,” voeg die roete by.
Talle inwoners het ook hul ondersteuning aangebied deur te help met die nodige toerusting, verf en die aandra van warm roosterkoeke en tee tydens die duur van die projek.
Elke chalet pronk met sy eie tema, naamlik landskap en diere, die hawe en Meeurots, die seelewe wat steeds voltooi moet word en Dassen-eiland. Hulle sien veral uit na die selfies wat vakansiegangers vir seker by die skilderye gaan neem.






