Van links staan André Perkeur, die voorsitter van Samoa (Moorreesburg se rugbyklub), Abri Adonis, Ghida Visser (Azis Esterhuizen se projekbestuurder), Davine Mckrieling en Franika Cronje, wat die skenking namens hom ontvang het.

Charlotte Lesch

Ahzerian Esterhuizen (30), ‘n voormalige polisiebeampte by die Moorreesburg-polisiekantoor wie se lewe ná ‘n diensbesering onherroeplik verander het, is dankbaar vir die Swartlandse gemeenskap se bystand en volgehoue ondersteuning.

Esterhuizen, beter bekend as Aziz, bevind hom deesdae in die Paarl. Hy is sedert 26 Februarie 2023 verlam ná ‘n wilde jaagtog op die N7-snelweg buite Malmesbury agter misdadigers aan, wat tragies in ‘n noodlottige ongeluk geëindig het. Esterhuizen is weens die aard van sy beserings tydens die ongeluk verlam gelaat, terwyl ‘n ander beampte dood is.

Ghida Visser, plaaslike inwoner van Moorreesburg, wat voor die ongeluk nou saam met Esterhuizen gewerk het, het in April vanjaar ‘n veldtog van stapel gestuur in ‘n poging om geld vir sy mediese uitgawes in te samel.

Die Moorreesburg-rugbyklub het nie geskroom om betrokke te raak nie en gehelp om saam met die plaaslike gemeenskap ‘n dans ter ondersteuning van Esterhuizen, ‘n voormalige speler én toegewyde en passievolle polisiebeampte van bykans 10 jaar, aan te bied.

Die geldinsamelingsgeleentheid, wat op 22 Junie plaasgevind het, was ‘n wegholsukses soos ondersteuners van die rugbyklub en van die saak gehaas het om hul toegangkaartjies te koop.

Esterhuizen, wat self die geleentheid bygewoon het, vertel die saal was stampvol.

“Hulle moes byna die helfte van die mense wegwys weens die saal se kapasiteit,” voeg hy dankbaar by.

“Dit was ‘n aand propvol emosies soos almal my naam geskree het toe ek by die saal inkom.”

‘n Ongelooflike R13 771 is op Saterdag 12 Julie gedurende die wedstryd tussen die Darling-rugbyklub en Samoa se halftyd aan Visser oorhandig, wat die tjek namens Esterhuizen ontvang het.

“Namens die bestuur en lede van die Moorreesburg-rugbyblub wil ons ‘n reusagtige dankie sê aan elkeen in die gemeenskap en die mense wat van ver af gery het om te kom ondersteun.

“Hierdie wonderwerk sou nie sonder julle moontlik wees nie,” het die klub bygevoeg.

Volgens Esterhuizen het die finansiële inspuiting dit vir hom moontlik gemaak om sy fisioterapiesessies tot aan die einde van Januarie volgende jaar vooruit te betaal. Hy laai ook daagliks videos op sy sosialemediaplatforms sodat sy

ondersteuners kan sien waarvoor hul bydraes aangewend word.

“Dit maak ‘n groot verskil,” voeg hy by.

Kontak Ghida Visser by 073 044 5552 vir nog inligting en om betrokke te raak.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article