Charlotte Lesch

Die eeu oue Tannie Lydia le Roux, ‘n inwoner van die Huis Bergsig-versorgingsoord in Riebeek-Wes, sê sy het nie juis ‘n geheim om 100 jaar oud te word nie, maar wel dat genade, haar liefde vir lees en ‘n lewe vol liefde haar tot hierdie ouderdom gebring het.

“Dit is net genade, want kyk, ek was nie ‘n engeltjie,” skerts sy.

Tannie Lydia, die jongste van vier kinders, is in 1925 in Cradock, Oos-Kaap, gebore en verlede Donderdag (17 Julie) het haar 100ste verjaardag saam met haar familie en vriende op hul familieplaas, Vlakkenheuwel, tussen Hermon en Riebeek-Kasteel gevier.

Sy dink graag terug aan die dae voordat sy haar in die Swartland kom vestig het. Tannie Lydia, gebore De Kock, het haar studies ná skool vir ‘n BA-graad in tale by die Universiteit Stellenbosch voortgesit. Sy was van kunsbeen af lief vir lees en verklap dat die leeslus grootliks van haar ouma af kom.

Daar het sy haar man, Frikkie le Roux van die Swartland, wat drie jaar ouer as sy was, ontmoet. Sy was in Huis Sonop en hy ‘n klipgooi van haar in Huis Dagbreek, ‘n kombinasie bestem vir mekaar. “Ons was ‘n lekker jong klomp en het graag danse bygewoon,” glimlag sy. “Toe Frikkie klaar studeer het, het hy eers by die KVW gaan werk om nader aan my te wees.”

Hulle is kort ná haar studies getroud en het plaas toe getrek. Volgens haar kleinkinders is dit waar die Engelse dorpsmeisie in ‘n voorslag-boervrou ontpop het. “Ek was nie bang vir bees-slag nie,” sê sy.

Tannie Lydia deel graag die suksesse van die boerdery. Haar seun Boet het later die leisels by sy pa oorgeneem en die boerdery tot groter hoogtes gebring. Vandag boer sy eie seun, Frederick, saam met hom.

Wanneer Tannie Lydia nie op die plaas doenig was nie, was sy by gemeenskaps- inisiatiewe betrokke. Sy het nog tot diep in haar 80’s die plaaslike leserskring in Riebeek-Kasteel bestuur, waar sy haar liefde vir lees met ander kon deel.

Sy en Frikkie was tot met sy dood op 92 altesaam 65 jaar getroud en het drie kinders, ses kleinkinders en 11 agterkleinkinders.

Tannie Lydia het tot op 98 nog alleen in haar huis by die Deo Gloria-aftreeoord in Riebeek-Kasteel gewoon voordat sy vroeg verlede jaar na Huis Bergsig moes verhuis. “Ek is baie gelukkig hier en is dankbaar vir instansies soos dié. Die versorging is goed,” voeg sy by. Sy is ook nog blakend gesond. “Ek was nog nooit lief vir stap nie, maar behalwe vir ‘n bietjie medikasie, gaan dit nog goed.”

Sy glo vas dat ‘n mens na jouself moet kyk. “Jy moet nie jouself laat gaan nie. Ek kry nog my skoonheidsbrosjures en -produkte,” spog sy met haar vel.

Tannie Lydia is nog redelik mobiel hoewel sy dit skelm moet doen as sy self in haar eie kamer wil rondbeweeg. “Ek weet ek moet eintlik nie,” bieg sy.

Haar kleinkinders glo die geheim tot haar lang lewe en helderheid van gees is die feit dat sy nog altyd weetgierig en leergierig is. “Haar brein het nie afgetree nie.”

Tannie Lydia lees nog daagliks. Sy is ook ‘n getroue intekenaar van Die Burger en Huisgenoot en kyk daagliks die nuus op die televisie om op hoogte van alles te bly. Die sportkanale is ‘n groot gunsteling. “Sy is ‘n groot sport-entoesias en mis nie ‘n rugby- of krieketwedstryd nie. Sy kyk ook graag gholf en die Tour de France en ken die meeste groot sportmanne se name,” vertel haar kleinkinders.

Tannie Lydia voeg by dat mense nie met tonnelvisie moet lewe nie, maar alle genres moet verken.

Sy lees Afrikaans, maar is ook lief vir haar Engelse boeke. Sy spog met ‘n miniatuur boekrak, vol miniatuur boekies in haar kamer. Die meeste van haar boekversameling staan egter steeds op die plaas in die boekrak wat nog van haar ouma uit die Oos-Kaap kom.

“Ek het ‘n vol lewe gehad,” voeg sy laastens by. Sy skryf haar lang lewe toe aan haar gelukkige kinderjare en ‘n gelukkige gesin van haar eie. “Ek het baie liefde in my lewe gehad. Daar was hartseer en moeilike tye ook. ‘n Mens weet nie die weë van die Here nie. En hier word ek nog gespaar.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article